Wekroep tot nuut dink oor geloof

Ek lewer nie in detail kommentaar oor hierdie artikel nie, maar plaas wel ’n paar skakels in die artikel. Intussen het Arné Verster wel op hierdie artikel gereageer in Evolusioniste kap terug (8 Desember 2020).

********

Wekroep tot nuut dink oor geloof | Netwerk24

Deur Jurie van den Heever

6 Desember 2020

Die reaksie op Ben du Toit se boek ‘God: Is daar ’n ander antwoord?’, mis die punt, skryf Jurie van den Heever.

Arné Verster se kritiek van twee weke gelede op Ben du Toit se boek (“Mens ís geskape na die beeld van God”) toon ’n gebrekkige insig oor die ontstaan, geskiedenis en betekenis van die Bybel, openbaar ’n oppervlakkige en fundamentalistiese interpretasie van die teks en hoe dit gelees behoort te word.

Nou, meer as ooit in die verlede, is uitgebreide inligting oor die ontstaan en geskiedenis van die verskillende weergawes van hierdie omvangryke literêre werk vrylik beskikbaar, gerugsteun deur uitgebreide argeologiese bevindings ten opsigte van die geografiese geskiedenis, die sosio-ekonomiese klimaat en materiële kultuur van die Ou Nabye Ooste ten tyde van die samestelling, herskrywing en vertaling van die talle geskrifte wat ons vandag die Bybel noem.

Volgens Verster is vrees van die Here die begin van kennis (Spreuke 1:7). Dit is algemeen bekend dat Bybeltekste nie lukraak en in isolasie aangehaal kan word, of dit op ons huidige situasie van toepassing is nie. Lees in dié verband gerus 1 Timotheus 6:20-21 waar kennis weer afgekraak word. Teoloë waarsku juis met eentonige reëlmaat dat tekste nie in isolasie kan en mag aangehaal word nie, tensy ’n mens die oorspronklike konteks duidelik verstaan.

Volgens Verster is die Skepper ’n standaard van objektiewe moraliteit en ’n norm vir wat reg en verkeerd is. Baie dun ys hier, want as die Bybel in sy geheel as ’n foutlose, historiese teks gelees word, is die doen en late van die Skepper allermins ’n navolgenswaardige handleiding vir ’n morele lewe. Lees gerus die meer as 1 500 gevalle waar God uitdruklik die Israeliete aanhits tot kindermoord, volksmoord, slawerny en verkragting. Van antieke Israel, deur die Christendom tot by die Noord-Amerikaanse fundamentaliste strek daar een lang bloedspoor in die naam van God.

Geloof in ’n opperwese is in elk geval nie ’n voorvereiste vir ’n morele bestaan nie. Lande soos Swede en Nederland, waar die bevolking oorwegend niegelowig of ateïsties is, bedryf juis hoogs morele samelewings in die belang van die burgery en dien as morele bakens vir lande soos Suid-Afrika, waar meer as 80% van die bevolking hulself Christene noem, terwyl ons toenemend verswelg word deur ’n buitengewoon hoë voorkoms van rampokkery, kindermoord, verkragting, transitorooftogte, plaasmoorde en ander sinlose geweld. Dit skep ’n donker prentjie van ’n Christelike bestel wat inherent immoreel, wetteloos en boos is. Tog reken Verster dat niks kan gebeur as die Here dit nie so bepaal nie.

Verster smous met ’n weergawe van evolusie wat heeltemal onwaar is deur te beweer dat die wese van die Darwinisme bepaal dat die sterkes oorleef en die swakkes sterf. Dit is doodgewoon twak. Wat dit in werklikheid beteken is dat organismes wat die meeste vrugbare afstammelinge in die volgende geslag lewer, die beste kans op oorlewing het. Konyne en kakkerlakke is goeie voorbeelde. Niemand sal hulle onder die sterkeres tel nie.

Sy fundamentalistiese aandrang dat die mens nie evolusionêr ontwikkel het nie, maar na die beeld van God geskape is, hou nie steek nie. Dit laat mens onwillekeurig wonder hoe God nou eintlik lyk. Sou Homo naledi of enige van ons ander voorsate ’n kandidaat kon gewees het, aangesien hulle waarskynlik nader aan die skeppingsweek geleef het?

[Kommentaar: Kyk Hoe evolusie werk en hoekom dit nie werk nie.]

Deur die ontstaansgeskiedenis van die mens met die gepaardgaande evolusie van sosialisering, taal, morele norme (nie kodes nie) en godsdiens af te wys, vervreem Verster hom outomaties van ’n sinvolle debat.

Dat hy hom boonop ’n wedergebore Christen noem, beteken dat hy waarskynlik onbewus is dat Jesus en Nikodemus Aramees gebesig het.

Verster se verdere aanspraak dat ons unieke beelde van God is met ’n verstand wat hy ontwerp het, strook nie met die werklikheid nie en toon ’n gebrekkige begrip van bewese biologiese kennis. Die menslike liggaam toon talle evolusionêre aanpassings wat goed funksioneer, maar nie onfeilbaar is nie.

Laerugpyn, losgelate retinas, verkortende onderkake met verlies van verstandtande, urienelyers wat by mans deur en nie om die prostaat verloop nie, is maar ’n paar voorbeelde. As al hierdie krankemente, waaraan ons natuurlikerwys ly, die beeld van God weerspieël, moet Hy ongetwyfeld ’n baie sieklike individu wees.

[Kommentaar: Kyk Swak ontwerp/oorblyfselorgane (“Vestigial organs”).]

Johann Rossouw (“Nuwe denke glad nie so nuut”) neem eksepsie teen die feit dat Du Toit voorgee dat die Christendom nie juis besorg is oor ons aardse bestaan nie. As teenargument haal Rossouw gerieflikerwys die sinlose en irrelevante uitsprake van die Katolieke kerkvaders en die insigte van Griekse wysgere aan en verklaar, op grond daarvan, dat Du Toit ’n teologiese karikatuur skep deur ’n ou paradigma as nuut aan te bied.

Nêrens in die artikel, of sy boek, noem Du Toit hierdie historiese figure nie, maar skryf uitsluitlik oor sy beroepservarings as jare lange lid van die uitvoerende kader van die NG Kerk en dié instelling se miskenning van die bydrae van veral die biologiese wetenskappe tot die ontstaan en wese van die mens.

Die nimmereindigende preekrefrein dat ons verblyf in hierdie vallei van onheil net tydelik is, amper soos in ’n wagkamer vir die dood, ons nie moet murmureer oor lyding en oorloë nie, maar steeds die minste moet wees, want dan sou ons toegang tot die fiktiewe ewige lewe verkry, lê egter vlak in die geheue.

Wat Rossouw gerieflikheidshalwe versluier is dat wetenskaplike inligting toetsbaar en kumulatief is en dat die rasionele, holistiese beeld van die leefwêreld van die mens in die 21ste eeu wat Du Toit aanbied, gerugsteun word deur bewese navorsing in ’n breë verskeidenheid vakrigtings.

Dit toon reeds dat die holle aandrang van gerekende kerklikes soos Augustinus op die oersonde en die misplaaste kondonering van Aristoteles se hiërargiese natuurstelsel as die Scala Naturae deur Aquinas, met inbegrip van ’n geosentriese sonnestelsel, ook mistastings was wat geen gewig meer dra nie.

Wanneer Rossouw die uitsprake van die kerkvaders as poëties liries en gevul met verwondering beskryf, versuim hy om te meld dat ons dit as literatuur lees en nie as ingeligte, feitelike beskrywings nie. Die kerkvaders was immers kinders van hul tyd, het in ’n voorwetenskaplike wêreld geleef, met beperkte kennis en belangstellingsvelde.

Ons kan hulle dus nie verwyt vir hul onkunde ten opsigte van die neurologie en fisiologie van die mens nie. Dit wil egter voorkom of Rossouw doelbewus agter die gebrekkige insig van die kerkvaders skuil en nie wil of kan toetree tot die veel ryker, meelewende en moreel verdedigbare leefwêreld waar Du Toit hom reeds bevind nie.

Nog nooit was die gesprek wat Du Toit aanroer so nodig nie. Selfs tien jaar gelede sou dit waarskynlik nie kon plaasvind nie. Ons kerk is egter besig om te verbrokkel en daar behoort ernstig hand in eie boesem gesteek te word om vorendag te kom met ’n geïntegreerde geloofsaanbod.

Laastens wil dit voorkom of die twee here, in hul ywer om Du Toit by te kom, nie die moeite gedoen het om sy boek in die geheel te lees nie.

God: Is daar ’n ander antwoord? is nie net ’n bevrydende reis vir die outeur nie, maar open, met bewese argumente en ’n intieme blik op jare lange teologiese bontpratery, hekke vir die leser wat die kerk liewer toegesluit sou wou hou.

* Dr. Jurie van den Heever is ’n paleontoloog.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui