Werner se getuienis

Kyk ook:

Hier volg Werner de la Guerre se getuienis hoe hy in homoseksualiteit ingetrek is deur ’n gerespekteerde predikant en hoe hy daar uit gekom het. Dit is oorspronklik op die Facebookgroep, Voice of the Voiceless, geplaas.

**********

As ’n persoon wat tot 2017 nog vasgevang was in ’n lewe van homoseksualiteit en daardeur in die kloue van duisternis was, voel ek my genoodsaak om die brief aan u te rig.

Daar word in die kerk veel gemaak van oriëntasie wat ’n gawe van God is en omarm moet word. Daar word ook gefokus op die humanistiese waardestelsel van menswaardigheid, wat by implikasie die ontsondiging van homoseksualiteit geword het. Ek het beide hierdie aspekte eerstehands aan my lyf gevoel, en ervaar hoe dit my hel toe sleep.

Ek was ’n goeie ou met goeie maniere. Ek het nie vuil taal gebruik nie. Ek het altyd met “asseblief” gevra en met “dankie” ontvang. Ek was altyd netjies en nie daarvan gehou om onnodig vuil te word nie. Ek is die tweede kind van vier. ’n Ouer broer en ’n jonger broer, ’n sussie wat die jongste is.

Ons het streng groot geword met ’n pa wat self predikant van die NG Kerk was, en met ’n ma wat haar lewe gewy het aan sendingwerk onder bruin en swart mense.

My pa het ons seuns aangemoedig om atletiek te doen en ek het ’n liefde vir landloop ontwikkel. My ander buitemuurse aktiwiteite was koorsang en ek het later in my hoërskool jare die skool begelei met my kitaar. Ek was ook ACSV-voorsitter.

Na my hoërskool loopbaan het ek my ouerhuis op Secunda verlaat en Stellenbosch Universiteit toe gegaan om teologie te gaan studeer.

In my derde jaar van studies (1997) het ek Ds. Willie Botha ontmoet wat toer-pa was vir Atlete vir Christus by Studente Kerk Stellenbosch. Ek onthou die eerste dag toe ek hom ontmoet het was hy vol grappe en skerpsinnig. Ek onthou nog hoe ek by myself gedink het ek sal graag soos die oom wil wees eendag wanneer ek oud is. Hy was meeste van die tyd besig om iemand te vermaak. Hy het gespeel met woorde en dubbelsinnigheid sodat mens nie anders kon as om altyd aan hom al jou aandag te gee nie. Studente wat reeds Ds. Willie Botha vroeër in hulle lewens ontmoet het, het aan my gesê hy word oom Bol genoem, omdat hy net-een-bol-liefde was.

Ek het in my agterkop gedink: ’n persoon se liefde vir ander mense is die beste bewys daarvan of die persoon opreg met die Here is en in ’n lewende verhouding met God staan. Op die Atlete vir Christus toer 1997 het oom Bol saam met al die ander toerlede op dieselfde bus gery. Ek onthou ons het beurte gehad om langs hom op die bus te sit. Dubbelsinnige grappe en gesprekke was sy handelsmerk. Ek onthou hy het daarvan gehou om diepsinnige gesprekke aan te knoop op die bus wanneer jy langs hom sit. Hy het mens probeer laat ontspan deur sy hand op jou been te sit. Liefdevolheid wat ek nog by geen predikant in my lewe al gesien het nie.

Ek het begin om my lewensverhaal aan oom Bol te vertel. Hy het met groot belangstelling na my geluister en met sy styl het hy my al meer oortuig dat hy die enigste persoon was wat vir my ’n klankbord sal wees in hierdie lewe. Ek het gevoel, en was later oortuig, dat ek enigiets aan hom kon vertel. Ons het begin praat oor maskers. Hy het my gou oortuig soos die gesprekke gevorder het, dat ek maskers voor mense dra, maar die grootste masker wat ek gedra het was die masker wat ek voor God gedra het. Dit het by my ’n bekering veroorsaak. Ek het voor God bely dat ek baie dinge vir Hom weggesteek het en dat ek sonder ’n masker voor mense en voor God wil lewe.

Hy was altyd vol drukkies. Drukkies vir almal op die span. Ek kan nie stry nie, ek het baie van die aandag gehou. Dit het die gevoel gelaat dat iemand omgee. Hy was altyd goed met woorde, almal het van sy preke gehou. Dit is ook maklik verstaanbaar dat daar uit sy pen meer as 70 geestelike boeke die lig gesien het.

Terug by Stellenbosch na die toer, het ek van elke geleentheid gebruik gemaak om oom Bol te gaan sien by sy kantoor op Wellington. Ek onthou hoe ek baie Vrydae by Stellenbosch op die trein geklim het en tot by Wellington gereis het. Daar het ek van die stasie af tot by sy kantoor gestap. Agter die kantoor se toe deur sou hy my ’n drukkie gee en vra vir ’n soentjie (want die Bybel praat mos van die broederlike kus). Op die stadium was ek 20 jaar oud.

Op ’n dag het ek sonder ’n afspraak by sy kantoor opgedaag. Hy het gesê hy het besigheid om in die Kaap na om te sien en gevra of ek nie sou wou saamry nie. Op pad kan ons dan sommer gesels. Ons was skaars ’n paar kilometers weg toe hy sê ons gaan vandag praat oor masturbasie. Ek het aan hom gesê dat dit vir my privaat was en dat ek kies om nie daaroor te gesels nie. Hy was baie goed met woorde en oortuiging en het my toe tog gekry om daaroor te praat. Voor ons terug was by Wellington het hy my gerus gestel dat ek die regte ding gedoen het om met hom daaroor te praat, want dit is tog nie so privaat as wat ek wou voorgee nie.

Ons het al meer begin praat oor seksualiteit in ons gesprek sessies by sy kantoor.

Die gesprek oor masturbasie en die oortuiging van sy kant af dat dit nie so privaat was nie, het net meer deure oopgemaak om te praat oor seksuele dinge, so erg so dat ek in my M.div jaar op kweekskool my proefskrif geskryf het oor: Die integrasie van spiritualiteit en seksualiteit in pastoraat. Na gelang die tema van my proefskrif moes ek baie artikels en boeke lees oor die tema. Die debat oor homoseksualiteit op daardie stadium in die NG Kerk het my oortuig dat my tema meer lig sou bring in die debat. Ek het saam met my mede klasmaats een van die Wes-Kaapse Sinode sittings bygewoon, waar ons gehoor het dat selfs professore homoseksualiteit verdedig.

Bewustelik of onbewustelik was ek besig om myself te oortuig dat mens gay en ’n christen kon wees. Later in die jaar het al die boeke wat ek gelees het oor die integrasie van seksualiteit en spiritualiteit my gemaklik gemaak met homoseksualiteit en my gewete gesus. Homoseksualiteit is soos alle ander sondes iets wat groter word soos wat jy aandag daaraan gee.

In daardie selfde jaar begewe ek myself in ’n homoseksuele verhouding met ’n pastoor se seun wat ook aan die Universiteit studeer het. Beide van ons was in ons eerste gay verhouding. Ons het baie gepraat oor of gay wees reg of verkeerd was. Ek onthou een aand het ek alleen deur die strate van Stellenbosch gestap. Ek het deur my tande gehuil, omdat hy met my uitgemaak het, omdat hy oortuig was dit was verkeerd. Ons het ’n paar keer uitgemaak en telkens het ons maar net weer opgemaak. Ek was in die kloue van duisternis.

Teen die einde van daardie selfde jaar het ek besluit om Engeland toe te gaan vir ’n werksvakansie. Dit het die einde van ons verhouding beteken.

Nege maande later was ek terug in Suid-Afrika. Oom Bol het kontak met my behou en ons het later soos beste vriende geword. Weens ons ouderdomsverskil het hy my vining laat voel ek is in ’n soort van spesiale terapie by hom. Spesiale terapie, omdat hy my nooit iets van homself vertel het nie.

Oom Bol moes by verskeie geleenthede Gauteng toe kom om vergaderings vir Bybelkor by te woon. Hy het oorgebly in ’n “Town Lodge”. Hy het my dan oor genooi om ook by die Lodge oor te bly, sodat ons meer tyd kon hê om te gesels. Daar het nooit iets seksueels tussen ons gebeur nie. Hy sou my wel baie drukkies en liefde gee.

Ek was die heeltyd onder die indruk dat hy my nie wou skrik maak nie, en dat sy hoof oogmerk was om my te help om myself te aanvaar. Een van die aande by die “Town Lodge” het hy sy skootrekenaar uitgehaal en dit op die spieëlkas neergesit. Hy het gesê ek moet op sy skoot gaan sit. Hy het eers gesê ek moet my oë toe hou totdat hy reg was om vir my iets te wys. Alles nog steeds in sy terapie stemtoon. Toe hy sê ek kan my oë oopmaak het ek in ’n kaal man vasgekyk. Ek het saam met hom die volgende tree van sy “terapie” gestap, en in my agterkop het ek my antwoord reg gehou. Ek is nie gay nie…

Toe ek aan die einde van uiterse pornografie vir hom sê ek is nie gay nie, het hy net geantwoord: Ek het nie gedink jy is gay nie, en oor ander dinge begin gesels. Ek het dit maar net as ’n toets gesien. Ek het die beste van hom geglo. Hy het immers alles van my geweet.

Voor ons gaan slaap het, het hy vir ons saam uit die Bybel gelees en ons het saam gebid.

Kort nadat ek terug was van Engeland af, het hy speels ge-sms (op terapie ingestel): Kry vir jou ’n naam vir jou eie privaat dele. Ek was op daardie stadium bewus dat ek nog nie my eie liggaam ten volle aanvaar het nie, soveel so dat ek oortuig was dat hy daardeur my wil help om my eie liggaam te aanvaar. So het hy ook sy naam vir sy privaat dele vir my gegee en ons sou in die toekoms na ons byname vir ons privaat dele verwys. Weens die intensiteit van ons gesprekke het hy al verder en verder ’n houvas op my gekry. Hy het gereeld gevra hoe dit gaan met my privaat dele deur te verwys daarna met die bynaam.

Al my grense was afgebreek.

Hy het gesê net wat en wanneer hy wou, met suggesties wat geen perke geken het nie. Met die bynaam vir my privaat dele sou hy altyd sy telefoon gesprekke afsluit met die woorde: Gee aan hom ’n drukkie van ons (hy en sy privaat deel) af. Hy het masturbasie aangemoedig en gesê dit is die bewys van selfliefde. Hy het vir my foto’s van sy privaat dele gestuur op my foon en my aangemoedig om dieselfde te doen. By my was daar geen skaamte by hom oor nie. Hy het vir my gesê hy het baie “lovers” wat almal op ’n skaal van 1 tot 10 presteer het. Ek wou graag my beste vir hom wees, omdat ek geglo het dat hy sy beste vir my gee.

Later van tyd het hy al die mense in my lewe se name en doen en late geken. Hy het my aangemoedig om nuwe gay vriende te maak. Hy het tot vir my gesê wat ek vir die verskillende ouens moet sê om hulle uit te lok tot seksuele gesprekke. Hy het my aangemoedig om die ouens wat “in die kas” is met takt uit te lok …. asof hy my daarvoor opgelei het.

In 2014 kry ek dit vir die eerste keer reg om vir oom Bol (die terapeut) reguit te vra of hy gay is? Wanneer ek terug kyk op my lewe kan ek vandag nie glo ek was vir so lank in duisternis vasgevang met iemand soos oom Bol nie. Hy was/is getroud en was altyd gelukkig in sy huwelik. So het dit voorgekom. Dit was een van die groot redes waarom ek hom nie vroeër gevra het of hy homoseksueel was nie. Op my vraag of hy gay was het hy my geantwoord dat hy is, en dat hy vir 19 jaar van sy lewe daarmee geworstel het.

Alles het stadig vir my begin sin maak; sy terapie was om my te oortuig en berusting te laat vind in myself, dat ek homoseksueel is en dat ek vrede daarmee moes maak dat ek so gebore is. Ek het by myself gedink en besef dat ek al lank reeds ervaar het dat die terapie nêrens heen oppad was in terme van ’n beter selfbeeld nie. Ek het my selfoonnommer verander en alle kontak met oom Bol verbreek. Die skade wat hy aan my en ander mense gedoen het was enorm. Soos wat ek hierdie stuk lewensgeskiedenis tik, voel ek nog steeds ’n stuk vrees teenoor hom. Iemand teenoor wie ek altyd my lewe moes verantwoord het. Iemand wat honderde Rande, as dit nie duisende Rande se lugtyd vir my gestuur het, om kommunikasie met hom te behou.

Voordat ek kontak verbreek het met oom Bol was ek met ’n ander man deurmekaar, wat baie ouer as ek was. Waar my eerste hulp vandaan gekom het was toe ’n vriendin van my haar vermoede aan ’n predikantsvriend van ons se vrou, vertel het. Sy het my gekonfronteer daaroor en my laat weet dat sy baie bekommerd was oor my, by gesê omdat ons goeie vriende is. Ek was ongelukkig daaroor en selfs kwaad vir hulle almal, omdat die storie versprei het. Ek het toe die verhouding verbreek en verder ’n selibate lewe gelei, al was ek soms steeds verward. Daar was niemand met wie ek oor my probleem kon gesels nie, soos iemand dit gestel het: Om nog met al die gif van homoseksualiteit van die afgelope jare in my siel mee rond te loop.

Omdat ek ’n geheime lewe van sonde gelei het, het ek alles weggesteek en wou, en kon ek met niemand praat nie, TOTDAT God iemand deur hierdie predikantsvriend se vrou aan my voorgestel het. Ek en die persoon het ’n pad saam begin stap.  Wat ek by hom kon leer, was dat God met ons op ’n pad van genesing en herstel is. Dit is ’n proses en neem tyd.

Vandag weet ek: God het die mens geslagtelik, man en vrou geskape, en nie met ’n oriëntasie wat ek as my identiteit moet aanvaar nie. Ek kan berus in die wete dat ek volkome man is. Gebore om ’n man te wees, sonder om te twyfel of om enige rede verward te voel oor my identiteit. God maak nie ’n fout nie. Sy Woord is die waarheid. Ons hoef geen spesiale eksegese te hê om Sy woord so te interpreteer dat dit ons eie teologiese verwardheid pas nie. Sy ja is ja en Sy nee is nee.

Ek is van een ding seker, en dit is dat ware bekering en vernuwing van die gemoed nie kan plaasvind sonder God se Woord as basis nie. Daar sonder sal die mag van duisternis jou net telkens weer oorval en oorweldig. Dat God my uit die duisternis na Sy wonderbare lig gebring het is alles loutere GENADE.

Ek doen ’n beroep op die Kerk om ’n standpunt voor te staan, wat in stede van verwarde mense aan te moedig om hulle sonde verwronge oriëntasie as hulle identiteit te aanvaar, hulle na die Weg, die Waarheid en die Lewe sal wys, sodat hulle hul van hulle sonde kan bekeer en na God draai.

God se waarskuwing is nog net so geldig: “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.” (Esegiël 3:18)

4 thoughts on “Werner se getuienis”

  1. Dit is ’n wonderlike getuienis, Werner. Mag Vader jou elke dag versterk om altyd die waarheid te getuig. Die waarheid maak ons vry.

  2. Ek vind die betrokke gerespekteerde predikant se destydse optrede – in soverre dit korrek weergegee is in die stuk van Werner de la Guerre – hoegenaamd nie goed nie. Dit weerspieël m.i. egter ook iets van die tragiek van gay mense [en hul huweliksmaats] wat – dikwels onder aanmoediging van ander – hulle in ’n heteroseksuele huwelik begewe.

    Wat ek nie begryp nie, is dat Werner de la Guerre sulke intieme detail met vermelding van die predikant se naam op Facebook kon deel – geslote groep of te nie. Wat my betref, was dit uiters onverantwoordelik van hom. Dat so ’n groep sulke intieme inligting as baie vertroulik sou hanteer, was wensdenkery [of selfs minder as dit]. En dat daardie inligting inderdaad soos growwe skindernuus hanteer is, blyk duidelik uit die feit dat dit hier herhaal word – op ’n webblad wat [so ver ek weet] nie net vir ’n geslote lesersgroep bedoel is nie.

    Met u benadering tot die lees en verstaan van die Bybel stem ek nie saam nie. Maar u is geregtig op u mening. Wat u egter met die plaas van hierdie stuk gedoen het, is egter ’n perd van ’n ander kleur – iets wat Christene liewer nie eens moet probeer goedpraat nie. Dis die absolute teenpool van omgee vir jou naaste – ook die naaste wat volgens jou oortuiging verkeerd gehandel het.

    Ek merk dat iemand anders die ophang hier van Werner de la Guerre se stuk aan die groot klok as ’n wonderlike getuienis beskou. Wat my betref, was die publikasie hiervan veel eerder uiters gemeen en uiters laakbaar.

  3. Johan

    Jy sê die optrede van die predikant weerspieël iets van die tragiek van gay mense [en hul huweliksmaats] wat – dikwels onder aanmoediging van ander – hulle in ’n heteroseksuele huwelik begewe. Jy sê ook dat jy nie met hierdie webblad se lees en verstaan van die Bybel saamstem nie.

    Dit is uiters oneerlik om die Bybel te “interpreteer” om homoseksualiteit te ontsondig. Homoseksualiteit is ’n versoeking net soos enige ander versoeking. Ons is almal mense wat op daaglikse basis versoekings beleef. En soms speel ons agtergrond ’n groot rol watter tipe versoekings ons mee sukkel. Elke Christen het egter die verantwoordelikheid om hierdie versoekings te weerstaan.

    Verder lyk dit vir my of jy al die getuienisse van ex-gays ignoreer en steeds vaskleef aan jou opinie dat jy so gebore word en dat dit daarom nie sonde is nie. Ek wil jou aanmoedig om die volgende twee artikels te gaan lees:
    Word jy gay gebore?
    Getuienisse van voorheen gay mense

    Oor die plasing van hierdie getuienis in die openbaar: Ek het vrede daarmee dat die korrekte prosedures gevolg is. Ek gaan nie die detail daarvan hier noem nie.

  4. Johan van der Merwe.
    Ek wil net die prentjie oor Werner se getuienis inkleur. Hy is ’n gerespekteerde jongman uit ’n predikantshuis. Ek is in ’n redelike mate bekend met die gebeure omdat Werner ’n gemeenteseun is van die gemeente waar ek predikant was. Ek het saam met sy ouers die hartseer beleef toe hulle seun emosioneel so gedestabiliseer geraak het, dat hy van Londen af moes terugkom na sy ouerhuis.
    Werner is nou in sy vroeë 40’s. Hy het die beste jare van sy lewe verloor, weens die gruwelike misleiding van ’n “gerespekteerde predikant” van die NG Kerk. Hoeveel ander jongmense het dalk nie deur soortgelyke traumatiese goed gegaan as gevolg van die Oom Bol se optrede nie?
    Werner se ouers het hom Stellenbosch toe gestuur as ’n gelowige en entoesiastiese seun wat die Here as predikant in die NG Kerk wou dien. Hulle het nie verstaan wat met hulle kosbare seun aan die gang was nie en waarskynlik weet hulle dit nou nog nie. Hulle is maar net teleurgesteld en hartseer.
    Die getuienis wat nou op GlodieBybel verskyn was ’n jaar gelede aan die Moderamen van die AS gestuur. Al reaksie wat Werner gekry het was simpatie. Nelis Janse Van Rensburg het dieselfde apatiese houding ingeneem as wat jy nou het Johan – dis jammer en daarby moet dit blykbaar bly!
    As die kerk die goed nie hanteer nie, sal die Here dit vír ons hanteer. Hierdie geval is dalk net die spits van ’n ysberg. ’n Vriendin van my het haar droefheid by my bekla oor ’n leraar van die NG Kerk, wat bygedra het tot haar seun se homoseksuele leefstyl. Die leraar wie se naam by my bekend is, is vandag ’n moderator van een van die kerk se sinodes.
    Johan, jy is beswaard oor die “intieme detail” van die goed wat Werner aan die lig bring. Ek dink dit is goed dat die wêreld ’n idee kry van hoe gevaarlik grootmense is met ’n siek gedagtewêreld en jongmense mislei en hulle lewens verwoes. Hulle mag nie daarmee wegkom nie Johan, allermins nie in die Here se kerk nie.
    Johan van der Merwe, jy praat in terme van “omgee vir jou naaste” en jy vind die publikasie “laakbaar”. Is dit wat in die kerk aangaan nie vir jou ook onstellend nie? Is Werner nie ook deel van jou naaste wat beskerm moet word teen gewetenlose mense in die kerk nie? Wat gaan jy omtrent hierdie voorval doen, behalwe om hierdie webblad te kritiseer en dit as “skindernuus” af te maak?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui