Die volgende artikel van Jean Oosthuizen het op 2 November 2014 in Rapport verskyn.
Hierdie wys dat die hele Belharkwessie ’n gemors is.
**********
Wie glo nog aan als in 3 formuliere?
Sondag 02 November 2014
Die NG Kerk se referendum oor Belhar laat ook vrae oor sy ander geloofsbelydenisse ontstaan, skryf Jean Oosthuizen.
Lidmate van die NG Kerk bevind hulle tussen die duiwel en die diepblou see.
Duisende lidmate van dié kerk het pas begin om, in aanloop tot volgende jaar se algemene sinode, hul stem uit te bring oor die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as ’n vierde belydenis van die NG Kerk. Maar weet hulle waarvoor hulle stem?
Die keuse waarvoor lidmate te staan kom, is nie ’n eenvoudige keuse vír of téén Belhar nie. Die voorgestelde wysiging aan Artikel 1 van die Kerkorde raak ook al die ander belydenisskrifte.
In ’n poging om die onversoenbare standpunte oor die omstrede Belhar-belydenis te versoen, wil die kerk ruimte bied vir sowel lidmate wat dit as belydenis aanvaar as dié wat dit nie aanvaar nie deur dit ’n “opsionele” belydenis te maak. Almal hoef dit dus nie te aanvaar nie.
Selfs ’n vurige pro-Belhar-man en ’n leiersfiguur in die NG Kerk, dr. Ben du Toit, oorweeg dit om nee te stem vir die voorgestelde wysiging van die kerkorde. Nie omdat hy téén Belhar is nie, maar omdat dit vir hom ’n minderwaardige hantering van Belhar is.
Du Toit het sy onvergenoegdheid onlangs in ʼn brief aan Kerkbode verwoord: “Terwyl Belhar die identiteit van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) definieer, is dit nou vir die NG Kerk ’n saak van mindere waarde – vergeleke met die Drie Formuliere van Eenheid.”
Die kerk se poging om, wat Belhar betref, almal tevrede te probeer hou kry ook die wind van voor van konserwatiewe lidmate. By die onlangse Vrystaatse sinode het ’n afgevaardigde van Springfontein, ouderling Kerneels Oosthuizen, aangevoer dat die duiwel “dierbare kinders van die Here” gebruik om Belhar op te stel sodat dit verdeeldheid in die kerk kan bring.
Die hele kwessie herinner aan die apartheidsjare toe daar “ja” of “nee” gestem is vir grondwetlike hervorming. Destyds het nie net regses nee gestem nie. Baie mense wat die essensie van werklike hervorming anders verstaan het, het ook nee gestem.
Mense soos Du Toit sê die hele ding ruik na ’n kerkpolitieke strategie wat die kerk uiteindelik gaan inhaal.
Du Toit se oplossing, wat hy aan die Algemene Sinode van 2013 voorgestel het, was om ál die kerk se belydenisskrifte aan dieselfde voorwaarde te onderwerp: Dat dit nie onder dwang sal geskied nie.
Want hier lê die knoop.
Die huidige voorstelle vir die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde sluit terselfdertyd die heraanvaarding in van die Drie Formuliere van Eenheid: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
Terwyl byna elke lidmaat in die NG Kerk ’n mening vír of téén Belhar het, weet bitter min lidmate waarskynlik wat presies in dié ander drie formuliere staan. En ás hulle weet, hoeveel stem saam met wat daar gesê word oor die “ellende” van die mens, verlossing, uitverkiesing en ander kwessies?
Ek sal my verstout deur te sê dat bitter min dominees vandag saamstem met dit wat die Dordtse Leerreëls (wat uit die 17de eeu dateer) oor die uitverkiesing sê.
In die Nederlandse Geloofsbelydenis bely lidmate dat Moses die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf het (insluitende die berigte oor sy eie dood) en dat Paulus 14 briewe geskryf het waarvan Hebreërs een is. ’n Mens sal baie hard moet soek om vandag enige Bybelkenner te kry wat dít aanvaar.
Tog het alle predikante, ouderlinge en diakens by aanvaarding van hul ampte bevestig dat hulle dié belydenisse aanvaar.
En terwyl dominees in die NG Kerk vry is om tekskritiek op enige deel van die Bybel toe te pas, is die geloofsbelydenisse in die drie formuliere in klip gegiet. Om die waarheid te sê, ’n dominee wat dit waag om in die openbaar hiervan te verskil, kan selfs sy werk verloor.
As die NG Kerk eerlik is, sal hy erken dat daar nie ’n kat se kans is dat een van dié belydenisse vandag met twee derde meerderhede deur sinodes en kerkraadsvergaderings goedgekeur sou word as wat nou van Belhar verwag word nie.
So, waarom dan nie liewer aanvaar dat die onderskrywing van ál die belydenisse sonder dwang geskied nie? Wat Belhar geld, behoort dus al die ander ook te geld.
Die VGKSA was, anders as die NG Kerk, nog altyd konsekwent hieroor. Hulle glo Belhar moet net soos die ander behandel word – en sonder dwang.
By die Wes-Kaapse sinode van die VGKSA het die kerk se moderator, dr. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, haar ook uitgespreek teen Belhar as ’n opsionele belydenis in ’n herenigde kerk. Daar móét ’n keuse gemaak word, het sy gesê.
“’n Belydenis is ’n deurslaggewende aksie en nie ’n toevallige reaksie nie. Die VGKSA het die afgelope 28 jaar onvermoeid oor en oor gesê die belydenis van Belhar kan nie opsioneel wees in ’n toekomstige verenigde kerk nie.”
Wat gaan die NG Kerk vir sy lidmate sê as die twee kerke die dag regtig verenig en Belhar kom weer aan die beurt, soos wat sal gebeur? Of gaan dit wéér die VGKSA wees wat in die beskuldigdebank moet staan terwyl almal geweet het wat hul standpunt is? Waarom dan nie van die begin af liewer al die belydenisse oor dieselfde kam skeer nie?
Natuurlik is daar baie mense in die NG Kerk wat sê die middernagtelike kompromisvoorstel van die vorige algemene sinode waaroor lidmate nou moet stem, is beter as niks nie. Maar dan moet hulle ook vir die lidmate sê dit is ’n tydelike kompromis. Anders gaan die kerk se lidmate oor ’n jaar of twee, wanneer daar indringend oor kerkeenheid gepraat word, sê hulle is met ’n slap riem gevang.
Eers dan sal hulle besef die huidige “referendum” in die NG Kerk verskil weinig van die referendum wat die blanke kiesers in die 1980’s gehad het toe hulle “ja” of “nee” moes stem vir grondwetlike hervorming.
Die eindresultaat het heeltemal anders gelyk as wat die leiers aan hulle voorgehou het.
- Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in kerksake.