Kyk ook:
- NG Kerk op ‘dun ys’ ná besluit oor gay huwelike (25 Sep 2022)
- Moderator van die NGK vra omverskoning vir apartheid (24 Sep 2022)
- Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang? (9 Sep 2022)
- Kerkeenheid
Kyk Dawie de Wet se reaksie hierop in Ons taak is om dissipels te maak.
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Wie verdrink in al die golwe wat kerkstryd maak? | Kerkbode
Kerkbode
28 September 2022
Estian Mentz van Britstown skryf: My kerk! My geliefde kerk! Waarmee is julle besig? Waarmee is ons besig? My hart breek elke keer as ek die naam “NGK” sien op een of ander Facebook-bladsy of koerantopskrif. My hart is stukkend oor my kerk, my geliefde kerk. Dit is vir my as predikant uiters ontstellend as ek moet sien dat daar deesdae van die NG Kerk en Kairos Netwerk as twee verskillende liggame gepraat word. Twee totale aparte liggame wat nou lynreg teenoor mekaar staan. Maar albei wil die kerk red, rig en lei. Die kommentare op Netwerk24 loop almal min of meer in een lyn: “Die NG Kerk is irrelevant.” Hiermee stem ek nie saam nie, maar gesprekke soos dié maak mense moeg, moeg vir gesukkel en dan gaan soek hulle vrede op plekke waar daar nie sulke gesprekke is nie. Die kerk is nie irrelevant nie, die kerk maak saak, die kerk is belangrik, maar tot ek twyfel al of ek die NGK-naam aan my gekoppel wil hê met tye. My kerk, my geliefde kerk.
Nou sit ek hier op Britstown, op die platteland met gewone mense, mense van die aarde, mense wat in God glo en God dien, mense wat naby aan die skepping leef en daagliks met die aarde werk. Ons verstaan nie. Die God van liefde is nie in ons kerk se oppergesag nie, sê van my lidmate.
Iemand vra my oor doleer. “Gaan ons ook doleer?” kom die vraag. “Nee,” sê ek. “Nee, ons gaan nie daai pad loop nie.” Die laaste paar jaar het geweldige skade aangerig in hierdie klein gemeenskap wat ook net net bly bestaan. Ontvolking van die platteland, ekonomiese krisis, droogte, sprinkane, stukkende paaie en stukkende mense jaag almal hier weg, en dan kom ons kerk ook en jaag nog so ’n paar mense weg. Die kerk wat die ruimte behoort te wees waar mense kan veilig voel, ongeag van hulle oortuigings, ongeag van hulle gevoel. Jesus het almal ingenooi, veilig laat voel, liefgehê. Dolering is na my mening lafhartig, ’n manier om weg te hardloop van die gesprek af. Maar net so aan die ander kant maak ons leiers nie reg nie. Ons aangestelde leiers tree op sonder mandaat, sê en doen goed wat nie bespreek is nie. So, toe my skoonma my vra wat dink ek daarvan, toe moes ek skielik eers die berig in die Rapport gaan lees om op te vang. Nie in my kerk se koerant nie, in Rapport. Dit is reg, ons moet jammer sê, ons moet regmaak wat die verlede ons gelaat het, maar ons moet vorentoe kyk. Net soos eerwaarde Abrahams gesê het tydens sy toespraak. Volledige vergifnis, toekomsgedrewe.
My hart is stukkend vir my kerk. Dalk moet ons nou maar skeur en klaarkry sodat dié van ons wat nog die NG Kerk liefhet, die stukkies kan begin optel, en die mense weer begin heelmaak. Ons sal self eers seker moet heel word.
Ons stry oor formuliere, ons stry oor kerkverband, kerkgesag, Skrifgesag, allerhande dinge, en tussendeur versuip ons lidmate tussen al die golwe wat gemaak word.
Ek kan met baie saamleef, maar haat binne die kerk is sekerlik te ver gevat.
Kommentaar
Daniel Louw
Volgens Estian: “Dolering is na my mening lafhartig, ’n manier om weg te hardloop van die gesprek af.”
Oor die afgelope 15 jaar is daar etlike kere op verskillende maniere gepraat, maar dit het niks gehelp nie:
- Etlike boeke, beswaarskrifte en ope briewe is geskryf en debatte het plaasgevind – kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap.
- Die Kairos Netwerk het die afgelope tyd drie keer met die algemene sinodale moderamen in gesprek getree:
- Ook het die leierskap van die Namibiese Sinode met hulle in gesprek getree:
Niks het daarvan gekom nie. Hoeveel keer wil Estian hê moet daar nog gepraat word?
Estian Mentz streef baie duidelik na wêreldse vrede. Jesus het egter gesê dat hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar “die swaard”:
(34)“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring
“ ‘tussen ’n man en sy vader
en tussen ’n dogter en haar moeder,
tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder;
(36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’
(37)“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.
(39)“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”
Daarom: maak seker dat jy aan die regte kant is…