Kyk ook:
- Wilhelm Jordaan
- Aanhalings – Ateïste
- Om geloof en wetenskap te skei
- Mag Bybel nooit geoffer word vir wêreldvrede (Pieter de Jager, 31 Jan 2024)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Wilhelm Jordaan: Só kan ateïste en gelowiges sinvol gesels | Netwerk24
Wilhelm Jordaan
24 Januarie 2024
Gesprekke tussen ateïste en gelowiges is selde leersaam. Miskien help dit as dit begin met die aanvaarding dat wetenskap en geloof twee ewe belangrike, eg menslike impulse is.
In die geval van wetenskap is dit die begeerte om te weet en te verstaan, begelei deur die immer skuiwende horison van kennis volgens die wetenskap se kragtige bewysreëls. ’n Mens kan dit die vernuf van die rede of “logos” noem en dit vul jou met bewondering én verwondering oor wat jy weet én nog nie weet nie.
Met geloof is die impuls ’n soeke na antwoorde op vrae soos: Waarom en waartoe die mens? Wat gee sin aan my lewe? Dit vra nie ’n bewys nie. Jy verlaat jou op opvattings wat jou oortuig dit is sinvol om sus te dink, só te glo en lewe. Jy verlaat jou selfs op stories (soos in die Bybel, Koran, Talmoed). Jy bewys nie waarheid daarvan nie; jy beleef dit as waar en geldig. Al hierdie dinge behels ’n singewende, verbeeldingryke en “mitiese” werklikheid wat eweneens verwondering en die belewenis van misterie wek.
Dit alles maak sekere dinge ontoelaatbaar. As ’n gelowige kan jy byvoorbeeld nie sê God het as “intelligente ontwerper” deur evolusie en natuurlike seleksie geskep nie. Want dít weet jy nie. Eweneens kan jy nie die ontstaan, verloop en genesing van natuurlike siektes en pandemies toeskryf aan die wil van God nie.
In gesprek met ’n ateïs behoort ’n gelowige noukeurig te luister waarom ’n ateïs nie kan of wil glo in die bestaan van ’n bonatuurlike “agent” (soos ’n God) nie. Miskien vind jy só daar is nog ’n stukkie ateïsme in jou wat brandhout is vir die vuur van blywende verwondering oor die moontlikheid van God!
Baie ateïste ignoreer dit dat fundamentalistiese geloof (soos die verlettering van Bybeltekste) lankal deur baie gelowiges verwerp word en vervang is met ’n hermeneuties-kritiese geloofsverantwoording. Sulke ateïste baklei met die spreekwoordelike strooipop. Dit kom neer op wetenskapsfundamentalisme, met die refrein: Oortuig met die rede alleen; bring die bewyse. ’n Geval van die ou ramkietjie op een snaar . . .
In sy resensie van die filosoof Johan Rossouw se vertaling van Michel Houellebecq se Franse roman Vernietig merk die digter Charl-Pierre Naudé veelseggend op: “Die rede (logos) het soos ’n dogma begin optree, maar sonder die vertroosting van ’n geloof (mythos). Dít terwyl die vyande van die rede hulleself die volle speling en magsmoontlikhede van die verbeelding gun . . . In sy kritiek op geloof, het die moderne rede ook die hoop vernietig . . .”
Respekvolle gesprek tussen ateïste en gelowiges vra een ding: Aanvaar en ag wat eg menslik is en laat die “redelike” en die “mitiese” mekaar versoberend bevrug. Miskien bring dít genuanseerde sienings eerder as venyn, snedigheid en sarkasme.
• Jordaan is ’n ontvanger van die Stalsprys vir sielkunde van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Kommentaar
Daniel Louw
Wilhelm wil blykbaar sê dat geloof daaroor gaan om sin van die lewe te maak terwyl die wetenskap gebruik word om te bepaal hoe alles hulle oorsprong gekry het. Geloof, so wil hy lyk my beweer, werk nie met bewyse nie, maar ‘n blinde geloof (my eie woorde).
Wilhelm sê dat as ’n gelowige kan jy byvoorbeeld nie sê God het as “intelligente ontwerper” deur evolusie en natuurlike seleksie geskep nie. Want dít weet jy nie.
Dit is 100% korrek: dit kan nie bewys word nie. En net so kan ateïste en evolusioniste ook nie bewys dat alles (vanself) deur evolusie plaasgevind het nie, want beide ateïs en gelowige werk met historiese wetenskap, nie operasionele wetenskap nie.
Gelowiges kyk baie meer rasioneel na die lewe as wat Wilhelm wil voorgee. Daar is baie goeie redes om te glo dat daar wel ‘n intelligente ontwerper was wat geskep was eerder as dat alles vanself ontstaan het. Kyk Hoekom glo ons in die bestaan van God?. Dit lyk eerder of dit ateïste is wat ‘n blinde geloof het daarin dat alles vanself ontstaan het.