Wondergenade in Nuremburg

Kyk ook:

Die volgende is geskryf deur Nico van der Walt. Lees ook die oorspronklike HIER.

**********

Wondergenade in Nuremberg

NA DIE TWEEDE WÊRELDOORLOG is ’n klompie van die Nazi swaargewigte aangekla van massamoord en misdade teen die mensdom. Hulle verhoor voor die Internasionale Militêre Tribunaal in Nuremberg het op 31 Augustus 1946 tot ’n einde gekom. Uitspraak is op 1 Oktober van daardie jaar gelewer. En die teregstelling van ’n aantal van die aangeklaagtes is op 16 Oktober voltrek.

Een-en-twintig Nazis is aangekla. Vyftien het hulleself as Protestante verklaar, en ses as Rooms-Katolieke. Die geallieerdes het vir elkeen van hierdie twee groepe ’n kapelaan aangestel. Vir die Protestante was ’n twee-en-vyftigjarige Amerikaanse Lutheraan, Henry Gerecke, verantwoordelik. Kaptein Gerecke kon vlot Duits praat en was deur en deur evangelies van oortuiging.

Toe dit duidelik geword het dat hulle sonder twyfel die oorlog sou verloor, het van die mees senior Nazis, soos Hitler, Himmler en Goebbels selfmoord gepleeg. Maar onder Gerecke se groep van vyftien was daar ander bekendes, oftewel berugtes, soos Rudolf Hess, Hitler se tweede-in-bevel in die Nazi-party, Hermann Goering, hoof van die Luftwaffe tydens die oorlog, Veldmaarskalk Wilhelm Keitel, opperbevelhebber van die Duitse weermag, en Joachim von Ribbentrop, Hitler se minister van buitelandse sake.

In die tronk is ’n kapelletjie ingerig en Gerecke het elkeen van sy manne na die eerste diens toe uitgenooi. Dertien van die vyftien het opgedaag. Hess en Alfred Rosenberg, nog ’n kabinetslid van Hitler, het van die begin af gesê hulle stel geensins belang in die evangelie nie.

Aan die einde van die diens het Fritz Sauckel, eens Hitler se hoof van arbeidsvoorsiening, gevra om in sy sel met Gerecke te praat. Sauckel was ’n berugte man. Volgens een van die regters was hy die wreedste slawedrywer sedert die Egiptiese Farao’s, en inderdaad is miljoene slawe-arbeiders onder sy bevel tot hulle dood gedryf. Maar nou was Sauckel se brawade en hardvogtigheid iets van die verlede. Hy was ’n gebroke man.

In Sauckel se sel aangekom, het die Duitser vir Gerecke oor die evangelie uitgevra en toe na ’n rukkie versoek dat die kapelaan vir hom uit die Bybel lees en saam met hom bid. Weldra het Sauckel self op sy knieë gesak en gebid – en sy gebed afgesluit met die woorde, “O God, wees my, ’n sondaar, asseblief genadig!”

In die volgende dae het die krygsgevangene ’n eie Bybel gekry, sowel as Luther se Kategismus. Spoedig was Gerecke daarvan oortuig dat hierdie Nazi slawedrywer en moordenaar van ontelbaar baie, gebroke was en waarlik gered.

Ongeveer ’n maand na die eerste diens, teen die einde van 1945, het Gerecke agter gekom dat groot veranderinge ook in Fritzsche, Schirach en Speer aan ‘t plaasvind was. Hy het hulle dieper ingelei in die Christelike geloof, en spoedig het ook hierdie drie, wat sóveel bloed op hulle hande gehad het, saam met Sauckel die nagmaal begin gebruik.

Wilhelm Keitel, voormalige hoof van die Nazi weermag, was volgende om tot geloof te kom. Tydens sy eerste nagmaal het hy die brood en beker op sy knieë gebruik, en onder trane gesê: “Mag Christus, my Verlosser, my enduit begelei. Ek sal Hom só nodig hê!”

In die lente van 1946 het ook Admiraal Raeder laat blyk dat hy ’n Christen wil word. Hy het weliswaar deur baie intellektuele geloofsvrae gewroeg, maar mettertyd ’n ywerige Skrifstudent geword.

Baie bemoedigend vir die Amerikaanse kapelaan was die geleidelike verandering wat hy in Joachim von Ribbentrop se gesindheid waargeneem het. Oor ’n tydperk van etlike maande het sy afsydige en arrogante hovaardigheid plek gemaak vir opregte belangstelling. En algaande het daar ’n nederige gebrokenheid by hom begin intree. Dit was ’n kwessie van tyd voordat ook hy aan die gereelde nagmaalsvierings begin deelneem het. Hierdie eens trotse Nazi magsfiguur het, trouens, by sy vrou gepleit om, sou hy tereggestel word, geen steen onaangeroerd te laat om hulle kinders in die weë van die Here groot te maak nie. En, volgens Lutherse tradisie, het hy ook geen rus of duurte gehad voordat sy kroos gedoop is nie.

Soos reeds gesê, word die verhoor uiteindelik op 31 Augustus 1946 afgesluit. As uitspraak gelewer en vonnisse gefel word, kry ses van die Amerikaanse kapelaan se vyftien manne die doodstraf (Goering, Von Ribbentrop, Keitel, Frick, Sauckel en Rosenberg), 3 lewenslange tronkstraf (Hess, Raeder en Funk), 4 lang vonisse (Schirach, Speer, Von Neurath en Doenitz), terwyl 2 onskuldig bevind word (Fritzsche en Schacht). Van die 6 Rooms-Katolieke kry 5 die doodstraf.

Drie van Gerecke se gemeentetjie van sewe nuwe Christene sou dus gehang word. Nog drie kry lang tronkstraf. En een word vrygespreek.

Die teregstellings vind plaas in die vroeë oggendure. Die vorige aand het Gerecke nog ’n laaste besoek aan Hermann Goering gebring, in die hoop dat daar by hierdie hardvogtige man ’n gesindheidsverandering sou wees. Maar die voormalige hoof van die Nazi lugmag het steeds met beslistheid die evangelie verwerp. Minder as twee uur later, en enkele ure voor sy beplande teregstelling, pleeg hy selfmoord deur kaliumsianied te drink.

Von Ribbentrop word eerste gehang – om eenuur die oggend. Terwyl hy na die galg stap, bely hy nogeens sy geloof. As ’n Amerikaanse offisier hom vra wat sy laaste woorde is, is sy reaksie: “Ek plaas al my vertroue in die Lam wat versoening vir my sonde gedoen het. Mag God my genadig wees!” Dan draai hy na Gerecke: “Ons sal mekaar weer sien!” Die swart mus word oor sy kop getrek, die lus word om sy nek geplaas – en dan ruk die galgtou styf.

Keitel en Sauckel is volgende. Ook hulle bely nogeens hulle geloof openlik en suiwer. Dan volg hulle Von Ribbentrop die ewigheid in.

As dit Frick se beurt is, kry Gerecke ’n verrassing. Hoewel hierdie gewese minister van binnelandse sake – verantwoordelik vir die dood van derduisende – nooit laat blyk het dat hy glo nie, bely hy nou vir die eerste keer sy vertroue in Christus as Middelaar. Dan sluit die laksman se vingers ferm om sy arm. Met sy belydenis wat nog op die omstaanders se oortrommels vibreer, vertrek ook hy om die Here van die here te ontmoet.

Gerecke self het sy broers vyftien jaar later gevolg – ’n hartaanval.

Nico van der Walt

Bronne:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui