Christina Landman: Dit is onnodig om mense se geloof te steel

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Christina Landman: Dit is onnodig om mense se geloof te steel | Netwerk24

25 September 2024

Ek lees nou die dag Sakkie Spangenberg se boek. Spangenberg is een van ’n groep voormalige teoloë, predikante en gelowiges wat hulle ten doel stel om Afrikaanse gelowiges van die Christendom te red. Volgens hulle staan die Christelike geloof op valse bene.

Iemand sien die boek met die titel Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid op my sitkamerbank lê en sê: “Sjoe, dis nogal baie om in een boekie te sit!” Inderdaad: In een boek word die hele Bybel en die Christelike geloof vals bewys – en die waarheid geopenbaar.

Die waarheid, beweer Spangenberg, is dat Christelike skrywers en leiers gewone Christene van die begin af doelbewus mislei het om hul eie agendas te dien. Matteus het Markus se verhale oor Jesus doelbewus verander om Jesus beter voor te stel. Die Christendom se meesterverhale van sonde en verlossing is saamgeflans om mense met vrees te vul en hulle te beheer. Die Christendom se geskiedenis is eintlik ’n verhaal van die onverdraagsaamheid van magsjagse leiers. Die kerk se belydenisskrifte praat teen mekaar omdat dit sekere faksies wou in- of uitsluit. Só het die Christene ’n klomp gode geskep wat hulle die Drie-eenheid genoem het. Uiteindelik het die Christelike geloof glo so ingewikkeld geraak dat mense later sommer Moslems geword het, want dit was eenvoudiger. So sê Spangenberg.

Dis ’n interessante boek in lekker Afrikaans geskryf, maar bevat nie nuwe navorsing nie. Spangenberg se bronne kom meestal uit die vorige eeu. Met selektiewe navorsing bewys hy dat enigiemand wat vandag nog in die Christendom se stories glo, óf dom is, óf die Bybel gebruik om mense nog verder te mislei.

Ek is ’n kerkhistorikus en het in die geskiedenis van die vroegste kerke en die Middeleeue gespesialiseer. Die afgelope 30 jaar werk ek as ’n mondelingse historikus. In Engels oral history; in Afrikaans bekgeskiedenis. Ek sê dit nie om fênsie te wees nie. Ek wil juis sê dat om geskiedenis te skryf of te kyk hoe ander geskiedenis geskryf het . . . dit moet jou eintlik maar net nederig maak. Want dít is die moeilikste ding op aarde: To freeze the walking voice.

Jy skryf iemand se verhaal neer, maar daardie mens hou aan loop. En al is hy of sy dood, loop sy of haar gedagtenis nog in mense se hart en op hul tong. Wat jy gevries het, bly staan in woorde, maar die verhaal loop onder homself uit. Die mense wat die Bybel geskryf het, moes tradisies vries. Orale tradisies wat op die mense se singende tong geleef en in hul vertellende kop gegroei het. Meestal was die Bybelskrywers die 1% wat kón lees en skryf. Hulle skryf vir mense wat verskillend luister.

“Dit is ’n onweerlegbare feit dat waarheid en geskiedenis ten nouste vervleg is,” skryf Spangenberg. Maar dis tog nie waar nie! Waarheid is kantig; dis dít wat op een tydstip gevries is. En ek sou sê om die waarheidskeppers van die Christendom voor te stel as mense wat net mag en misleiding in die kop gehad het, is onwaar.

Die Christendom was van die begin af ’n pastorale beweging. Die eerste Christene was meestal verskoptes en verstotenes, slawe en vroue. Die Christendom het gegroei op ’n eenvoudige boodskap van hoop en liefde.

’n Boodskap wat ’n mens nog vandag steeds nie by mense hoef te steel nie.

• Landman is ’n professor in teologie verbonde aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Christina Landman moet hand in eie boesem steek oor haar sieninge oor die Christelike geloof. Haar sieninge is bloot die begin van ‘n glibberige glybaan na waar Sakkie hom vandag bevind.

Kyk ook Jean Oosthuizen se resensie op Sakkie Spangenberg se boek: Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg: ’n resensie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui