Kyk ook:
Van rusie na ruimte – ‘n Perspektief op konflik in die kerk
Deur Chris van Wyk
Predikante konferensie Namibië 22-24 Oktober 2024
Inhoudsopgawe
- Die blywende gesag van die Bybel
- Handhawing versus relativisme in etiese sake
- Kompromie lei tot konfrontasie
- Wat maak ons met dogmatiese verskille?
- Verdere debat en besware?
- Die verhaal van Isak
- Die motief van die oorblyfsel
- Calvyn breek weg van dwaalleraars
- Nuwe netwerke
- Praktiese stappe
- Verwysings
**************
Die blywende gesag van die Bybel
“As die fondamente afgebreek word, wat kan ‘n regverdige dan doen?” (Ps 11:3)
Kerke ervaar wêreldwyd konflik oor die blywende gesag van die Bybel vir ons lewens. Daar is groot verskille oor die gesag van die Bybel in etiese kwessies, veral rondom die huwelik en seksualiteit.
Dit laat gelowiges en gemeentes die volgende vrae vra:
- Kan Jesus se leerstelling dat die huwelik net tussen een man en een vrou is, steeds as absoluut gehandhaaf word (Matt 19:1-12; Gen 1:27; 2:24)?
- Kan Paulus se leerstelling dat selfdegeslagverhoudings verwerp word, steeds as ‘n absolute waarheid gehandhaaf word (Rom 1:24-27; 1 Kor 6:9-11; 1 Tim 1:8-11)?
Handhawing versus relativisme in etiese sake
Sommige sê ja, hierdie leringe oor die huwelik en seksualiteit moet gehandhaaf word, omdat dit universele en absolute waarhede is. Dit is ‘n lewensbelangrike grondslag van die Christelike geloof wat vernietig word as dit nie gehandhaaf word nie.
Hulle wys daarop dat daar ‘n ononderbroke, onveranderlike getuienis regdeur die eeue in alle kerke die wêreld oor is wat die huwelik tussen een man en een vrou handhaaf, en selfdegeslagverhoudings verwerp.
Hierdie getuienis is altyd, oral, deur die hele kerk gehandhaaf soos onteenseglik aangetoon word deur die navorsing van Fortson en Grams in hulle Unchanging Witness: The Consistent Christian Teaching on Homosexuality in Scripture and Tradition (Fortson, S. Donald & Rollin G. Grams 2016).
Ek het redelik uitvoerig hulle werk bespreek in ‘n bydrae Historiese en Bybelse perspektiewe op die Huwelik en Seksualiteit wat op die Internet beskikbaar is.
Dit is ook waar die sinode van Namibië hulle bevind. In julle 2016-getuienis oor selfdegeslagverhoudings is julle duidelik dat op grond van “deeglike eksegetiese ondersoek is dit op geen manier tans vir ons in ons interpretasie van die Bybel moontlik om selfdegeslag seksuele dade te aanvaar en te regverdig nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.”
En julle het: “getuig dat die Bybel ’n selibate lewe vra van mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie en hulle te weerhou van praktyke van geslagsgemeenskap in selfdegeslag seksuele verhoudings.”
Ander sê egter, nee, dit kan nie volgehou word nie, want ons dink nie vandag meer so nie. En hulle verander of verwerp vandag die betekenis van die tekste en relativeer daardeur die gesag van hierdie dele van die Bybel vir ons lewens.
James Brownson verander bv die siening van die huwelik in Genesis 2 deur dit nie meer aan die hand van binêre geslagtelikheid te definieer nie, soos dit in die teks uitgespel word nie, maar beklemtoon slegs die feit dat mense vir mekaar as “maats” gegee is. Volgens hom kan enige twee mense wat maats is vir mekaar in ‘n verbintenis lewe, maak nie saak wat hulle geslag is nie. (Brownson, J.V. 2013)
Dieselfde met die verwysings na malakoi en arsenokoitai in 1 Korintiërs 6 en 1 Timoteus 1. In plaas van die Griekse semantiese betekenisse van “passiewe selfdegeslag seksgenote” en “aktiewe selfdegeslag seksgenote” (Louw/Nida), of soos die 2020-vertaling dit vertaal: “mans wat met mans intiem verkeer” herinterpreteer hy die twee woorde op subtiele wyse dat dit dui op “jonger” mans en “ouer” mans. Daarmee verander hy egter die Griekse betekenis van die twee woorde as verwysings slegs na pederastie.
Dit is egter ‘n verandering van die teks, want, as Paulus van pederastie wou praat, sou hy die Griekse term paiderastia kon gebruik. Die Griekse woord arsenokoitai is volgens die woordeboeke ‘n neologisme in die Griekse taal wat deur Paulus geskep is. Dit dui op mans wat met mans intiem verkeer, sonder dat ouderdom ter sprake is. Brownson verander dus wat in die Bybelteks geskryf staan. Dit is inleeskunde, nie uitlegkunde nie.
Jimmy Loader volg ‘n ander benadering. Hy verander nie aan die Bybelteks nie. Hy sê dat ons mekaar nie moet mislei nie. Die Bybel is negatief oor selfdegeslag seksuele gedrag. Hy verwys bv na die omvattende boek van Dan Via en Robert Gagnon in 2003 (Homosexuality and the Bible: Two Views) wat verskillende standpunte het oor selfdegeslagverhoudings, maar saamstem dat: “biblical texts that deal specifically with homosexual practice condemn it unconditionally.”
Loader se benadering is om doodgewoon te sê dat ons vandag nie meer só dink, soos Paulus in die Bybel, nie. Hy stel dus nie voor dat ons aan die teks moet verander nie. Ons besluit eerder om dit doodgewoon nie meer toe te pas nie (Loader, W. R. G. 2010). ‘n Benadering wat plaaslik deur ‘n hele aantal teoloë gevolg word.
Brownson en Loader kyk dus albei na hierdie etiese kwessies van selfdegeslagverhoudings as nie-fundamenteel, as randsake. Dit is nie meer van toepassing op ons nie. Die een verander die teks. Die ander verwerp die teks.
Nou, só ‘n hantering van die teks – verandering of verwerping – staan uiteraard direk teenoor ‘n benadering wat aan die Skrif se gesag rondom die huwelik en selfdegeslagverhoudings wil vashou.
Maar, dit is presies wat die Algemene Sinode deur sy besluite van 2019 en 2023 geakkommodeer het deur te besluit dat “burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag kan plaasvind.”
Diegene wat die Skrif se gesag oor die huwelik en seksualiteit as absoluut aanvaar, is daarom in konflik met diegene wat dit nie doen nie en die Bybel se boodskap daaroor relativeer.
Kompromie lei tot konfrontasie
As ons na die breër prentjie van Christenskap in die wêreld kyk, is daar verskillende maniere waarop kerke kies om hierdie konflik te bestuur.
Sommige kies ‘n welwillende manier om vriendskaplik in afsonderlike instellings te verdeel op grond van hul sienings oor die gesag van die Bybel, soos baie kerke veral in die VSA gedoen het (Presbiteriane, Metodiste en Anglikane). Dit is veral die keuse as daar aansienlike ondersteuning vir beide posisies is.
En dit wil voorkom asof dit die beste manier is om die konflik te bestuur.
Ander kies ‘n akkommoderende pad waarin ruimte gemaak word vir verskille binne een kerk. Dit is veral die keuse as die leierskap hoofsaaklik aan die relativisme kant is, soos dit tans oor ‘n breë spektrum van die Algemene Sinode en die ander streeksinodes in SA die geval is.
Daar is egter twee probleme hiermee.
Die eerste probleem is dat dit ‘n pad van kompromie is wat net vir die korttermyn die konflik kan bestuur. Jy kan nie twee radikaal teenoorgestelde sienings onbepaald in harmonie met mekaar hanteer nie.
Die ervaring is dat akkommodering gou verander in intimidasie en konfrontasie.
‘n Mens ervaar dit op sinodale – sowel as op gemeente vlak.
Onlangs het 60% van die gemeentes in die Vrystaat besluit dat die 40% van gemeentes wat die bande wil losmaak met die Algemene Sinode dit nie mag doen nie. Die meerderheid hou die minderheid dus gevange teen hulle sin.
Ironies genoeg is dié situasie omgekeerd in die gemeentes. Daar kom die gemene reg in spel en kan die minderheid die meerderheid gevange hou. En met die feit dat lidmaatskap in die kerk nou verander is, sodat daar net lidmate is, en nie doop- en belydende lidmate nie, kan dit beteken dat kinders nou die gemeente se toekoms kan bepaal. Die ASM kon nog nie daaroor uitsluitsel gee nie.
Gemeentes word dus weerhou daarvan om selfstandige besluite hieroor te neem met op plekke byvoorbeeld die dreigement van regstappe rakende status en bates en ‘n aantal tugsake teen leraars, soos dit op die oomblik op ‘n paar plekke gebeur.
Ek self het onlangs uit die sinodale verband in die Oos-Kaapland bedank, omdat die ruimte vir gesprek oor selfdegeslagverhoudings nou daar toegemaak is.
Ek het die 10de Oktober bedank. Drie besluite daardie dag in ‘n tydperk van drie uur het die ruimte vir my toegemaak.
- Die dagbestuur wou nie langer welwillend optree teenoor leraars en gemeentes wat wil uit nie, al is hulle baie minder as in die Vrystaat. “Gaan hou kerk onder julle eie boom,” het een van die dagbestuur lede gesê.
- Die dagbestuur het daarby aanbeveel dat die Oos-Kaap sinode volgende jaar nie eers praat oor selfdegeslagverhoudings nie.
- Plus ek het radikaal verskil oor die toelating van ’n gay leraar vir colloquium doctum.
Ek kon dus nie meer met ’n goeie gewete deel wees van só ’n bestuur nie. Daar was ten einde laaste nie ruimte vir my standpunt in die Oos-Kaap leierskap nie. En daar gaan vir niemand ruimte geskep word in die Oos-Kaap daarvoor nie.
Wat maak ons met dogmatiese verskille?
Die konflik gaan egter nog dieper. Waar ‘n kerk verskille op ‘n etiese vlak toelaat, is dit onvermydelik dat die verskille ook op dogmatiese vlak toegelaat sal word.
Ons sien dit reeds in die akkommodasie van ‘n relativering van wat die Bybel ons oor God en sy Seun Jesus leer.
- Verlede jaar was ‘n teoloog, Peter Nagel van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, in die nuus oor sy siening van Jesus. Hy argumenteer in verskeie artikels dat ons Jesus nie met goddelikheid moet oorlaai nie, want dit veroorsaak teologiese beperkings. Ons kan nie van Jesus praat as Theos (God) wat beteken dat Jesus volgens hom by implikasie nie goddelik is nie. (Nagel, Peter 2017)
Omdat hierdie standpunt in stryd is met die belydenis van die kerk van die eeue dat Jesus ware God en ware mens is, gebaseer op die Bybel (Joh 1:1-14; 1 Joh 4:2; 5:20), sou mens verwag dat die leierskap van die kerk so ‘n posisie verwerp. Die kuratorium van Stellenbosch het egter gekies om nie teen hom op te tree ná ‘n ondersoek nie.
- ‘n Ander teoloog, Nico Koopman, voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, het in ‘n rubriek hierdie jaar in die koerante geskryf dat God in Christus teen alle geweld kies. Volgens hom beteken dit dat al die tekste in die Bybel wat God met geweld verbind, deur Christus aan die kruis gerelativeer word. Alle mense word nou deur hom erken as God se eiendom en sy uitverkorenes. (Koopman, Nico 2024)
So ‘n standpunt relativeer groot dele van die Bybel, nie net in die OT nie, maar ook in die NT. Jesus verklaar byvoorbeeld in sy profetiese toespraak dat sondaars die ewige straf van die Here in die hel sal ontvang en diegene wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe (Matt 25:46). Jesus is nie net die Verlosser nie, maar ook die Een wat die oordeel van God voltrek.
Die vraag is of hy dus dink dat ons Jesus se woorde ook nou moet sensor en uit die Bybel skrap? Want, dit is die logiese implikasie van sy standpunt.
Verdere debat en besware?
Die vraag is nou wat staan gemeentes te doene wat reeds ontmoedig is weens die etiese debat as daarbenewens die kern van ons belydenis oor God en Christus en die ewige lewe in die Bybel gerelativeer word?
- Moet ons klagtes teen die teoloë lê by die kerklike liggame wat hulle toesig hou?
- Moet ons nog ’n paar debatte by sinodes hieroor voer met beswaarskrifte?
Ervaring toon dat dié strategie nog nie blywende vrugte afgewerp het nie. Dit het nog nie in die NG Kerk gehelp nie. Byna ‘n duisend bladsye van klagtes is ingestuur en afgekeur, meestal sonder dat hulle dit eers gelees of tot beraadslaging gebring het. Ek het self drie ingestuur.
Soos dit eenmaal met ‘n Jeremia gebeur het. Hy het ná ‘n jaar se werk om al sy profesieë op te teken dit as ‘n getuienis aan koning Jojakim gegee, en dié het die boekrol van hom stukkie vir stukkie opgesny en in sy kaggel gebruik om die vuur teen die winterkoue aan die gang te hou. Ons lees:
“Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met ’n bak gloeiende kole voor hom. Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi, Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.” (Jer 36:22-23)
Maar, dit het Jeremia nie afgesit nie. Die boekrol is maar net weer geskryf en ons lees van Jojakim dat hy geboei is met bronskettings om na Babel toe te vat, soos Jeremia ‘n oordeel oor hom uitgespreek het:
“Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (Jer 22:19).
So, daardie tipe protes is waarskynlik steeds nodig.
Maar, dit kan nie al strategie wees nie.
Die verhaal van Isak
Miskien kan ons ‘n pad vorentoe vind in die verhaal van Isak in konflik met sy bure as ‘n metafoor in Genesis 26.
Die narratief begin met die Here wat ‘n duidelike opdrag en belofte aan Isak gee wat van hier af sy bewegings beheer.
Hierdie opdrag is dat hy nie in tye van benoudheid na Egipte moet aftrek nie, byvoorbeeld wanneer daar ‘n droogte is, maar moet bly in die land wat die Here vir hom aangewys het.
Die belofte is dat alles in elk geval aan hom en sy nageslag behoort, selfs daardie dele waaroor in die loop van die vertelling gestry sal word.
Die Here is ook duidelik dat sy verblyf in Kanaän ‘n verblyf as vreemdeling is. Hy kan dus nie een raak met die Filistyne en Kanaäniete nie.
Toe Isak dus in Gerar konflik met die Filistyne ervaar omdat hulle sy putte toegemaak het uit afguns, besef hy dat hy moet trek, want sy verhouding met die Filistyne het regtig vasgeval.
Hy trek dan na ‘n vlakte, steeds in die streek Gerar, en grawe daar die putte van sy pa Abraham oop, maar ontdek in die proses ‘n spesiale wateraar wat permanente water verskaf. In plaas daarvan om saam met hom bly te wees, eis die inwoners van die land dit egter van hom. “Dit behoort aan ons”, sê hulle, al het hulle niks gedoen om hierdie water te ontdek nie.
Isak noem die put dus Esek, in Hebreeus “Rusie” of “Twis”, omdat die bron van water wat hy self ontdek het, aan hom geweier en van hom afgeneem word.
Hy versit na ‘n ander plek, egter steeds in die omgewing van Gerar, en grawe nog ‘n put in ‘n poging om water vir sy mense en hul vee te voorsien. Maar, weereens, toe hy suksesvol is, kom die inwoners van die land teen hom in opstand en dryf Isak ook daarvandaan af weg.
Isak noem hierdie put dus Sitna, in Hebreeus “Klagtes” of “Vyandskap”, omdat hierdie bron van water ook aan hom geweier en van hom weggeneem word.
Na die derde konflik oor water, besluit Isak om ‘n bietjie verder weg te trek en grawe ‘n put in die suidooste van die land, interessant genoeg in die deel waar sy vader Abraham in Berseba gebly en die Here aanbid het (Gen 22:19).
Dit sou ook later aan Juda as stamgebied gegee word. En hier het Isak uiteindelik rus, want niemand probeer hier iets van hom en sy mense steel nie.
Isak het die put dus Regobot genoem, in Hebreeus “Ruimte”, want dit was uiteindelik ‘n plek waar hy in vrede met sy mense kon lewe en voorspoedig kon wees.
In die voorsiening en vryheid wat hierdie put hom gee, kan hy selfs nog ‘n put in die suide grawe wat hy Seba noem, in Hebreeus “Eed”, wat hom sou herinner aan die belofte van die Here dat die hele gebied van Kanaän eendag behoort aan hom en sy nageslag, aangesien hy later die seën aan Jakob oorgedra het (Gen 28:3-4; Hebr 11:20).
Die dorpie by die put, Berseba, word dus die middelpunt waar nie net Abraham kon floreer nie, maar ook Isak, en later ook Jakob.
Dit is ook hier waar die Here later die belofte aan Jakob sou herhaal dat sy nageslag sou terugkeer om die hele land in besit te neem (Gen 46:3-4).
Elia ontvang ook hier die ondersteuning wat hy nodig het om weer die stem van die Here te hoor (1 Kon. 19:2-8).
Miskien is daar ‘n les te leer in hierdie verhaal van Isak. Nie dat daar nie groot verskille is in die omstandighede en situasie van Isak se tyd en ons omstandighede en situasie vandag nie.
Die verhaal van Isak wat van “Rusie” na “Ruimte” beweeg, kan egter ‘n pad vorentoe wys in die huidige konflikte in kerke oor etiese en leerstellige aangeleenthede.
Die motief van die oorblyfsel
Ons moet onthou dat ware gelowiges reg deur die Skrif die oorblyfsel genoem word.
Van Genesis tot Openbaring skei God mense. Hy maak ‘n onderskeid tussen dié wat Hom dien en dié wat hom verwerp.
Soos met Noag. God maak ‘n onderskeid tussen Noag en die mensdom. Die regverdige Noag en sy volk word deur die ark verlos. Die goddelose mense van sy tyd vergaan deur die oordeel van die vloed.
Dit is die manier waarop God ‘n toekoms vir sy volk verseker. Deur Noag en sy gesin as ‘n oorblyfsel te kies en hulle van die vloed te red, verseker God ‘n toekoms vir die volk van God.
Soos Raymond Dillard dit stel:
“The holy, pure, and true people of God will survive his judgment on sin as a faithful remnant and will become the nucleus of a renewed, chosen people. The purposes of God are not frustrated but are effected among that true and renewed people.” (Professor of Old Testament Language and Literature, Westminster Theological Seminary, Philadelphia, Pennsylvania)
Daarom kan ons sê dat die oorblyfsel en die ware kerk presies dieselfde is. Die oorblyfsel en die uitverkorenes, die geroepenes, is presies dieselfde.
Maar dit is ook hoekom die oorblyfsel, die ware kerk, konflik en twis sal ervaar, as gevolg van hierdie skeiding. Selfs met mense wat deel is van die sigbare kerk.
En God se opdrag aan die oorblyfsel is altyd, soos Jesus aan die gemeente in Smirna geskryf het: “Wees getrou tot die dood toe” (Openb 2:10). En aan die kerk in Tiatira en Filadelfia: “Hou vas wat julle het, totdat Ek kom.” (Openb 2:25; 3:11)
En sy opdrag aan hulle leiers, soos Jesus aan die leier van Sardis geskryf het: “Versterk die hande van die wat oorbly.” (Openb 3:2)
Calvyn breek weg van dwaalleraars
Dit gee ‘n ander perspektief op die opdragte wat Paulus in die NT gee aangaande dwaalleraars. Ons vind so ‘n opdrag in Romeine 16:17-18:
17Ek doen ‘n beroep op julle, broers, om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, in stryd met die leer waarin julle onderrig is. Bly weg van hulle af. 18Want hierdie soort mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie maag. Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense. (Rom 16:17-18)
Calvyn sê in sy kommentaar op hierdie verse dat die mense wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, sal voorgee dat hulle vir vrede en eenheid is, maar die feit verberg dat die eenheid wat hulle voorstaan, gebaseer is op leuens en goddelose dogmas.
Hy teiken spesifiek die Katoliekgesinde mense wat die Protestante daarvan beskuldig het dat hulle die kerk verdeel het, en spreek dit soos volg uit:
“Paul clearly shows, that he did not condemn all kinds of discords, but those which destroyed consent in the orthodox faith.” (Calvin, John 1539)
Dit gaan natuurlik daaroor om weg te kom van die dwaalleer en hul voorstanders. Maar die eintlike rede is dat gelowiges slegs hul roeping in hierdie wêreld kan vervul as hulle oor die waarheid saamstem. Mens kan net in liefde by die waarheid bly as jy saamstem wat daardie waarheid is (Ef 4:15).
Dit is hoekom Calvyn weggebreek het van die Katolieke kerk.
Daar is min bekend daaroor, maar wat ons weet, is dat die Rooms Katolieke Kerk in opstand gekom het teen die dinge wat Calvyn en Nicolas Cop, ‘n familievriend en dokter, geskryf het.
Die breuk het dus begin toe daar teenstand was teen dié dinge wat hy geskryf het wat die heersende teologiese idees van die Rooms Katolieke Kerk uitgedaag het.
Toe die Rooms Katolieke Kerk hom as ‘n bedreiging begin beskou het, het Calvyn daarom aanvanklik net uit sy kerklike poste bedank op die ouderdom van 21 in 1530.
Hy het verder gegaan en in dié tyd sy Instituut begin skryf, totdat hy in 1535 uit die land gedwing is, toe koning Francis I van Frankryk al hoe meer onverdraagsaam teenoor Protestante geword het.
Calvyn het na Switserland gevlug en die vlugtelinge daar begin bedien. Die eerste uitgawe van die Instituut is ‘n jaar later uitgegee toe hy 27 jaar oud was, in 1536.
In daardie selfde jaar is Calvyn deur die Fransman William Farel gewerf om by die Hervorming in Genève aan te sluit, waar hy gereeld deur die week gepreek het. Die beheerraad van die stad het egter in opstand teen beide Calvyn en Farel gekom en hulle verban.
Op uitnodiging van Martin Bucer het Calvyn na Strassburg gegaan, waar hy die predikant van ‘n kerk van Franse vlugtelinge geword het. Hy het voortgegaan om die hervormingsbeweging in Genève te ondersteun.
Vyf jaar later, in 1541, is hy terug genooi om die kerk van Genève te lei.
Ten spyte van teenkanting van verskeie magtige families in die stad wat probeer het om sy gesag aan bande te lê, het al hoe meer Franse vlugtelinge by hulle aangesluit en dit het Calvyn se opponente uit hulle magsposisie gedwing.
Calvyn het sy laaste jare deurgebring om die Hervorming beide in Genève en regdeur Europa te bevorder tot met sy dood in 1564.
Calvyn het dus in sy eie bediening konsekwent gewys dat die waarheid van die Woord jou dwing om op te tree in ooreenstemming daarmee. Dat dit jou leer om jou af te skei van dié wat dwaalleer verkondig, en roep om aan te sluit by dié wat by die waarheid hou.
Net soos Johannes Hus in 1415 ‘n 100 jaar te vore in Bohemië.
Net soos Luther in 1517 met sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg.
Calvyn was 26 jaar Luther se junior, en hulle het waarskynlik nooit ontmoet nie, maar soos Luther het sy teologie konsekwensies vir kerklidmaatskap gehad.
En Calvyn was nie bang om op te tree en hom van die afvallige kerk af te skei nie.
Hoe ken ‘n mens mense uit wat verdeeldheid veroorsaak? Calvyn sê op twee maniere:
“they attempt to make disturbances in two ways; for they either sow discord, by which the minds of men are drawn away from the unity of truth, or they occasion offenses, by which men are alienated from the love of the gospel… The former evil is done when the truth of God is mixed with new dogmas devised by men; and the latter takes place, when by various arts it is made odious and contemptible.”
Hoor mooi. Verdeeldheid word veroorsaak deur mense wat die waarheid van God vermeng met nuwe dogmas wat deur mense uitgedink is. En asof dit nie genoeg is nie, maak hulle die waarheid veragtelik sodat mense aanstoot neem daaraan.
Dan gaan hy aan om dié mense aan te vat wat voorgee dat hulle vir vrede en eenheid is, maar dit wegsteek dat die eenheid wat hulle voorstaan op leuens en goddelose dogmas gebaseer is en sê:
“it is a shameful sophistry to defend, under the pretext of peace and unity, a union in lies and impious doctrines.”
En dit kan ons nooit doen nie. Ons kan nie die waarheid van die Woord vervang met die leuen nie. Ons kan nie omdat mense nuwe dogmas uitdink, en die waarheid van die Woord veragtelik maak, die waarheid oor seksualiteit met leuens vervang nie.
Live not by lies, soos Aleksandr Solzhenitsyn skryf in sy laaste woord aan die Russiese bevolking voor sy deportasie en wat die titel is van ‘n boek van Rod Dreher wat ‘n groot invloed op my gehad het (Dreher, Rod 2020).
Hoe doen ‘n mens dit? Wel: “a man who refuses to live by lies:
- Will not say, write, affirm, or distribute anything that distorts the truth
- Will not go to a demonstration or participate in a collective action unless he truly believes in the cause
- Will not take part in a meeting in which the discussion is forced and no one can speak the truth
- Will not vote for a candidate or proposal he considers to be “dubious or unworthy”
- Will walk out of an event “as soon as he hears the speaker utter a lie, ideological drivel, or shameless propaganda”
- Will not support journalism that “distorts or hides the underlying facts” (Dreher, Rod 2020)
Soos Aleksandr, rig Calvyn hom lank tevore teen die leuen, en spesifiek teen die Rooms gesindes se leuen wat die Protestante beskuldig daarvan dat hulle die kerk skeur, en verwoord dit soos volg:
“Paul clearly shows, that he did not condemn all kinds of discords, but those which destroyed consent in the orthodox faith.”
Dit gaan dus nie oor klein verskille nie. Dit gaan oor dié dinge wat die ortodokse geloof bedreig. Die dinge: “which destroyed consent in the orthodox faith.”
En ons kan gerus Calvyn weer lees in sy uitleg van Romeine 1 waar hy van selfdegeslag begeertes as “the dreadful crime of unnatural lust” praat.
Bly weg van sulke mense, sê Calvyn.
Nuwe netwerke
Ons leef dus met hierdie spanning wat elke ware volgeling van Jesus vandag teëkom. Die spanning tussen dié wat gehoorsaam wil leef aan die Bybelse waarhede, en dié wat dit nie wil doen nie, en hulle eie pad wil volg.
En ons moet onsself afvra: “Hoe bly ons getrou aan die woord van God as ‘n kreatiewe minderheid?”
Ons moet onsself afvra: “Hoe konfronteer ons ons kultuur se afgode met die vrymoedigheid van die Gees en die gesag van ‘n boodskap van die lewe?”
Wel, aan die een kant moet ons bid dat God ons die moed en vrymoedigheid sal gee om die waarheid te praat met diegene in plekke van mag.
Maar aan die ander kant moet ons ook onthou wat die Amerikaanse professor en skrywer, Carl Trueman in sy boek Strange New World geskryf het en gesê het:
“The church protests the wider culture by offering a true vision of what it means to be a human being made in the image of God.” (Trueman, Carl R. 2022)
Ons moet praat, en ons moet ‘n visie gee.
Dit is wat James Hunter ook sê in sy boek To Change the World (Hunter, James Davison 2010). Hy maak in die proses baie van die feit dat ‘n mens nie net as individu ‘n verskil kan maak nie, maar as deel van institusies of netwerke.
“I would argue (along with many others) that the key actor in history is not individual genius but rather the network and the new institutions that are created out of those networks. And the more “dense” the network—that is, the more active and interactive the network—the more influential it could be.” (Hunter, James Davison 2010)
Maar, interessant, Hunter is bewus daarvan dat dit nuwe netwerke sal en moet insluit.
“However much Christians may be able to affirm in the world, the church is always a ‘community of resistance.’”
En waar die meerderheid in ‘n sisteem die waarheid teenstaan, het die tyd gekom om nuwe netwerke te stig.
Praktiese stappe
Hoe dit prakties moet lyk, moet elke gelowige en elke geloofsgemeenskap self besluit. Ek dink daar is drie paaie om te verken.
1. Staan sterk by die ortodokse standpunt oor Skrifgesag en Skrifgebruik
Die 1986 standpunt oor Skrifgesag is die laaste ortodokse belydenis van die NG Kerk. En alle opvolgende besluite van die Algemene Sinode is ‘n afwyking op mindere of meerdere mate daarvan.
Die 1986 besluit is opgestel deur die drie NG Kerk kweekskole van daardie tyd wat elkeen sy eie bydrae gelewer het. Die drie bydraes het egter só ‘n merkwaardige eenheid van standpunte gedemonstreer, dat prof Pieter Potgieter dit gemaklik in een dokument kon verenig, sodat dit netso deur die Algemene Sinode aanvaar kon word.
Die 1986 standpunt oor Skrifgesag en Skrifgebruik is ‘n manjifieke stuk wat gebruik kan word om die ortodokse belydenis van God se Woord te omarm.
Wat my opgewonde maak van dié standpunt is dat dit vier sake van ons Skrifverstaan helder en duidelik stel. Die NG Kerk het daarin die volgende bely.
1.1 Die Heilige Skrif het deur die Heilige Gees tot stand gekom
Dit is immers waar alles begin het. Die Bybel is immers die Woord van God. Deur die werk van die Heilige Gees het ‘n blywende en onvernietigbare verbintenis tussen Hom en hierdie geskrifte wat ons die Bybel noem tot stand gekom wat daarom as die Woord van God tot ons spreek. So het die Algemene Sinode van daardie tyd bely.
Dit is só ‘n bevrydende waarheid. Jy kan die Bybel optel en die Gees vertrou dat Hy deur die Bybel met jou sal praat. Want, die Bybel kom van God af!
1.2 Die histories-kritiese metode van Bybelondersoek van die afgelope drie eeue is afgewys
Die rede is eenvoudig. Die voorstanders van die historiese kritiek hanteer die Skrif prinsipieel op dieselfde wyse as elke ander historiese dokument, bloot as ‘n menslike geskrif. En in ‘n geloofsgemeenskap kan dit nooit werk nie.
Die Bybel is immers die woorde van die Heilige Gees wat deur die grondleggers van die kerk – apostels en profete – aan ons oorgedra is. Die Bybel is daarom die resultaat van die werk van die Gees. Dit is die geskrewe Woord van God wat net soos die vleesgeworde Woord van God – Jesus – en die ingeplante Woord van God in ons harte (vgl Jak 1:21) deur die Gees gebruik word om ons volwasse te maak in Christus.
Die sinode het veral op die gevaar gewys as mense begin om ‘n onderskeid te maak tussen wat van God kom in die Bybel en wat net die historiese en menslike “verpakking” sou wees waarin dit tot ons kom. Want as jy eers met daardie proses begin, het hulle gewaarsku, sal op die ou end niks van die Bybel oor bly nie.
Hoekom?
Want, die oomblik as ‘n mens dit begin doen, dan raak jou eie interpretasie en inset bepalend vir die waarheid van die Skrif, het hulle gesê. Dan verkry jou interpretasie kreatiewe krag en word jy maklik verlei om krities teenoor die inhoud van die Skrif te wees. Dan is jy vatbaar vir allerhande misleidende en niksseggende redenasies.
Wat beteken dit?
Dit beteken dat jy die Algemene Sinodes van 2002, 2004, en veral 2015 se standpunte oor Skrifgesag en Skrifgebruik sal moet verwerp.
Dink byvoorbeeld aan die 2015 standpunt van die Algemene Sinode wat die Bybelse uitsprake sowel as die uitsprake in die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 12) oor die skepping en die bestaan van bonatuurlik wesens as nie-rasioneel en nie-empiries afgemaak het in die dokument Wetenskap en teologie (Geloof).
Dit is in dié dokument geïllustreer met verwysing na die verhale in Genesis 1-3 oor die skepping sowel as die verhale van Jesus wat demone uitdryf in Markus 5.
Om daardie tekste vir ‘n moderne samelewing verteerbaar te maak, is voorgestel dat jy dit simbolies of sakramenteel lees. Jy hoef dan nie die werklikheid daarvan te aanvaar nie. Jy hoef net die simboliek daarvan te aanvaar, want deur só ‘n lees hoor jy die “goddelike” in die teks.
Dieselfde gebeur met die hantering van NGB 12 waarin God se skepping van bonatuurlike wesens bely word. Daar word in die besluit van die Algemene Sinode eksplisiet gesê dat ‘n mens ʼn onreg aan die teks van die NGB aandoen: “as ʼn mens rasionele en empiriese kategorieë wil aanlê in die vertolking van die inhoud daarvan.”
Dws, engele en ander hemelse wesens bestaan nie, want ons kan nie hulle bestaan wetenskaplik verifieer nie.
Maar, dan geld dieselfde mos vir God? Want Hy is ook nie wetenskaplik verifieerbaar nie!
Jy kan meer lees oor die besluit van 2015 in ‘n referaat wat ek daaroor by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch gelewer het.
1.3 Die geskiedenis van God se heilsdade word in die Bybel op ‘n betroubare wyse weergegee
Natuurlik het die Algemene Sinode in 1986 ook gesê dat die Bybel geen handboek vir wetenskap of geskiedenis is of kan wees nie. Jy lees die Bybel nie as ‘n fisika handboek nie. Maar, dit beteken nie dat die Bybel vir die wetenskap geen betekenis het nie, het die Algemene Sinode bely, of dat die Bybel histories onbetroubaar is nie.
Die Algemene Sinode het wel rekening gehou met die probleme en eienaardighede van die Skrif soos dit voor ons lê. Hulle het dit alles erken, maar bely dat ook dít onder inspirasie van die Heilige Gees geskied het.
Hoor dít mooi. Die Bybel wat jy in jou hand het, is alles die werk van die inspirasie van die Gees. Jy kan dus ‘n pad met God loop. Want sy Woord is betroubaar.
1.4 Daar is ‘n ‘n onderskeid tussen die Skrif en die belydenis, maar albei is in eie reg belangrik.
Die Heilige Skrif is die enigste norm vir die belydenis van die kerk. Die belydenisskrifte van die kerk is as norma normata ondergeskik aan die Skrif as norma normans non normata. Die belydenisskrifte is gesagvol omdat (quia) dit in ooreenstemming is met die Bybel, maar die Bybel self is die norm wat nie genormeer mag word nie.
Daarom kan jy net van die belydenis van die kerk verskil as jy die kerk kan oortuig om haar belydenis te verander. En almal is opgeroep om die kerklike weg te volg as hulle verskil. Skryf ‘n beswaarskrif. Oortuig die kerk.
En daarby gesê, indien jy dit nie doen nie, indien jy verskil, en ‘n ander standpunt as die kerk handhaaf, en jy nie die kerk probeer oortuig van jou standpunt nie, moet die kerk die opsie van leertug uitoefen.
Maar, jy kan nie van die Skrif self verskil nie. Die Skrif is die norm wat nie verander kan word nie. Dit is die Gereformeerde belydenis en standpunt!
Die NG Kerk het in 1986 dus duidelik teen ‘n diversiteit van opinies oor die Skrif en die belydenis gekies.
Hoekom? Want, die wonder van die Bybel is dat dit die stem van God in ons lewe is. Die Bybel kom uit ‘n spesifieke tyd, is vir ‘n spesifieke tyd geskrywe, sommige daarvan in die toekoms, maar die Bybel is nie tydsgebonde nie.
Dit is waarheen ons moet terugkeer! Sola Scriptura waardeur al die ander solas duidelik word: solus Christus, sola fide, sola gratia, en soli Deo Gloria.
2. Bly weg van ‘n “ruim huis” teologie
Maar, dit sal beteken dat nuwe weë, nuwe netwerke, vir gemeentes en sinodes wat aan die Skrif en sy gesag vir ons lewe wil vashou, gesoek moet word.
‘n Mens kan nie saamwerk met strukture wat nie standpunt inneem oor die wesenlike sake van die evangelie nie. Want, dit vernietig die “consent in the orthodox faith”, soos Calvyn gesê het.
Die Algemene Sinode het bykans onherroeplik gekies vir ‘n akkommodering van diverse standpunte, ‘n “ruim huis” teologie. Veral oor Skrifgesag en Skrifgebruik.
- Daarom kan teoloë die sondeval ontken en die kettery verkondig dat alle mense gered sal word wat duidelik teen ons belydenis indruis. En niemand doen iets daaraan nie. Ook nie wanneer Jesus as die Enigste Weg na God die Vader geloën word deur teoloë nie.
- Daarom kan teoloë die maagdelike geboorte van Jesus ontken, en geen haan kraai daarna nie. Trouens, Ben du Toit het die Andrew Murray prys gekry vir ‘n boek waarin hy onder andere die maagdelike geboorte ontken. Die Oostelike sinode wou in 2003 byvoorbeeld geen uitspraak oor die maagdelike geboorte of selfs oor die opstanding lewer nie weens die verskille in standpunte in die sinode. Dit skep onsekerheid in eie geledere.
- Daarom kan teoloë die liggaamlike opstanding van Jesus ontken, en wegkom met ‘n idee dat Hy net in ons hart opstaan. Ek onthou helder die teenstand wat ek in die Moderamen in 2007 uit eie geledere gekry het oor ‘n standpunt wat ek namens die Moderamen oor die liggaamlike opstanding van Jesus verwoord het. Nie almal het met die meerderheid standpunt saamgestem nie, en wou eerder dat ons ruimte laat vir ander standpunte oor die opstanding.
- Daarom kan teoloë selfs post-teïsties raak – in algemene taal beteken dit doodgewoon dat hulle God nie meer as ‘n wese in eie reg erken nie – en deel van die kerk bly asof daar leervryheid in die NG Kerk is.
- Of soos Yolande Steenkamp van Hugenote Kollege, in haar proefskrif kies vir die anateïsme, ‘n area tussen die erkenning van die bestaan van God in die teïsme, en die nie-erkenning van die bestaan van God in die ateïsme. God is die ewigdurende moontlikheid. Jy kan hom nooit vasvat nie. Hy is, en Hy is ook nie. (Steenkamp, Yolande 2016)
Bly dus weg van ‘n “ruim huis” teologie.
Om nuwe netwerke te skep, gaan nie maklik wees nie, want die pad uit gaan baie moeilik gemaak word vir sulke gemeentes.
Die Namibiese sinode is egter in die bevoorregte posisie dat hulle selfstandig die keuse kan maak.
3. Skep nuwe netwerke wat hou by die wesenlike van die evangelie
Ek dink ons kan baie leer by die gedagtes van Daniel Darling oor hoe ‘n kerk kan werk met verdelende kwessies – Agents of Grace: How to Bridge Divides and Love as Jesus. (Darling, Daniel. 2023a)
Hy gebruik, soos baie ander, die onderskeid tussen wesenlike en nie-wesenlike sake, adiaphora, en orden dit in vier sirkels.
- Daar is leerstellings wat wesenlik noodsaaklik is vir die evangelie. Dit is oortuigings wat begrond is op absolutes uit die Skrif. As jy dit verander of verwerp, plaas jy jouself buite die oorgelewerde Christelike geloof. Dit sluit die Bybel se belydenis oor God en die mens, sonde en verlossing, sowel as die gesag en betroubaarheid van die Skrif vir leer en lewe in. Die kerk het hierdie dinge nog altyd as wesenlike leerstellings beskou.
En nou weet ons, die leer oor die huwelik en seksualiteit was altyd deel van hierdie wesenlike leerstellings soos dit onder andere ook in die Hervorming ‘n neerslag gevind het. Luther, Calvyn Ursinus, trouens alle ander teoloë, Augustinus ingesluit, die afgelope twintig eeue, het daarmee saam gestem.
Net een voorbeeld, die bydrae van Zacharias Ursinus. In sy kommentaar op die Heidelbergse Kategismus Sondag 41, vraag 108, wat hy saam met Casper Olivianus in opdrag van Frederik III geskryf het, en aanvaar is in 1563, beskryf hy selfdegeslag seksuele gedrag helder as ‘n oortreding van die sewende gebod.
Ursinus het enige seks buite die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou as onkuis en immoreel beskou en moeite gedoen om baie spesifiek ook selfdegeslag seksuele gedrag af te wys as teen-natuurlik en korrup en daarom immoreel en onkuis, veral met verwysing na Romeine 1.
Selfdegeslag seksuele gedrag het volgens hom ‘n verwarring van geslagte behels in die geval van mans en ‘n misbruik van vroulike seksualiteit in die geval van vroue. Daarom is daar net twee weë vir alle gelowiges: ‘n lewe van kuisheid (chastity – wat ons vandag selibaat noem) of die huwelik (tussen man en vrou). (Williard, G. W. 1888)
- Tweede orde leerstellings is belangrik vir die kerk (maar nie noodsaaklik vir die evangelie nie). Dit is kwessies waaroor Christene vir ‘n groot deel van die kerkgeskiedenis verskil het, soos die aard van die doop. Dit is tipies die vlak waarop denominasies gevorm word. Maar ons kan steeds met ander kerke saamwerk oor baie evangelie-inisiatiewe omdat ons saamstem oor die eerstevlak-kwessies.
- Derde orde leerstellings is belangrik vir teologie (maar nie noodsaaklik vir die evangelie of noodwendig belangrik vir die kerk nie). Hierdie kwessies sluit onderwerpe in soos eskatologie (oortuigings oor die eindtyd), die rol van teken gawes, die ouderdom van die aarde, watter Bybelvertaling die beste is om te gebruik ensomeer.
En hoewel dit goed en reg is om sterk standpunte oor hierdie kwessies te hê, moet ons akkommoderend wees met ander wat verskillende sienings hieroor het.
- Vierde orde leerstellings is onbelangrik (teologies). Punt. Dit is die dinge waaroor Paulus skryf in Romeine 14. Hy spreek spesifiek drie verskillende meningsverskille aan. Eerstens die vraag of ‘n Christen vleis kan eet (Rom. 14:2). Tweedens die vraag of ‘n Christen spesiale dae kan vier (Rom. 14:5). En derdens of ‘n Christen wyn kan drink (Rom. 14: 21) – dieet, dae en drank.
Dit is leerstellings waarin ons mekaar moet akkommodeer. Jy wil dalk nie in die kerk wees met mense wat hieroor met jou verskil nie, maar jy kan ook nie toelaat dat hierdie kwessies jou in verskillende kerke verdeel nie.
Romeine 14 kan ook nie gebruik word as relativering van die wesenlike leerstellings oor afgodery en immoraliteit wat deur die kerk in Handelinge 15 en deur Jesus in Openbaring 2 afgewys is nie.
Handelinge 15 kan ook nie gebruik word om verskille rondom seksualiteit te akkommodeer nie, want die kerk het daar gekies teen immoraliteit waaronder selfdegeslagverhoudings geressorteer het.
Paulus was by daardie vergadering, en het ‘n paar jaar later teen selfdegeslagverhoudings uitgevaar in Romeine 1. Hoe kan ‘n mens dan nou anachronisties argumenteer dat Handelinge 15 jou die reg gee om selfdegeslagverhoudings goed te praat!?
Wat is wesenlik?
Die wesenlike was nog altyd vir die geloofsgemeenskap dié dinge wat met God te make het, met ons verlossing, en met hoe ons in gehoorsaamheid aan Hom lewe. Dit sluit die huwelik en seksualiteit in.
‘n Mens kan nie saamwerk met ‘n netwerk of struktuur, al is dit die Algemene Sinodale verband, wat verskil oor die wesenlike van die evangelie nie.
Die tyd het gekom vir opsy staan. Vir nuwe netwerke.
Aan die een kant om gehoorsaam te wees aan die boodskap van die eeue.
Aan die ander kant om ons roeping te herontdek om met daardie boodskap tot aan die einde van die aarde te gaan.
Dr Chris van Wyk
acv.vanwyk@gmail.com
23 Oktober 2024
Verwysings
Brownson, J.V. 2013. Bible Gender Sexuality. Reframing the Church’s Debate on Same-Sex Relationships. Grand Rapids: Eerdmans.
Calvin, John. 1539. Commentary on Romans. TRANSLATED AND EDITED BY THE REV. JOHN OWEN. GRAND RAPIDS, MI: Christian Classics Ethereal Library. https://www.ccel.org/ccel/calvin/calcom38.xx.ii.html.
Darling, Daniel. 2023. Agents of Grace: How to Bridge Divides and Love as Jesus Loved. Grand Rapids, Michigan: Zondervan, Kindle Edition.
Dreher, Rod. 2020. Live Not by Lies: A Manual for Christian Dissidents. New York: Penguin Random House.
Fortson, S. Donald & Rollin G. Grams. 2016. Unchanging Witness: The Consistent Christian Teaching on Homosexuality in Scripture and Tradition. Nashville: B&H Publishing Group. Kindle Edition.
Hunter, James Davison. 2010. To Change the World: The Irony, Tragedy, and Possibility of Christianity in the Late Modern World. Oxford: Oxford University Press.
Koopman, Nico. 2024. “In Christus Kies God Teen Alle Geweld.” Netwerk 24, March 13, 2024. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/nico-koopman-in-christus-kies-god-teen-alle-geweld-20240313.
Loader, W. R. G. 2010. Sexuality in the New Testament: Understanding the Key Texts. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox.
Nagel, Peter. 2017. “Overburdening Jesus with Divinity Causes Theological Limitations: Matthew 4:1‑11 as Test Case.” UNIVERSITY OF THE FREE STATE THEOLOGICAL EXPLORATIONS 2 (Making Sense of Jesus. Experiences, interpretations and identities): 28–46.
Steenkamp, Yolande. 2016. Post-Metaphysical God-Talk and Its Implications for Christian Theology: Sin and Salvation in View of Richard Kearney’s God Who May Be. Doctorate in the Department of Dogmatics and Christian Ethics. Faculty of Theology, University of Pretoria. Pretoria: University of Pretoria.
Trueman, Carl R. 2022. Strange New World: How Thinkers and Activists Redefined Identity and Sparked the Sexual Revolution. Wheaton, IL: Crossway. Kindle Edition.
Williard, G. W. 1888. The Commentary of Dr. Zacharias Ursinus on the Heidelberg Catechism. Translated from the Original Latin. Cincinnati: Elm Street Printing Company.